Nege vas ná Welkom-vrou se ontvoering

Charmaine en Johnny Botha. Foto: Facebook

Die Valke, bygestaan deur verskeie polisie-eenhede, Harmony-goudmyn se veiligheidsafdeling en Bidvest Coin Security, het vroeg Vrydagoggend ʼn klopjag uitgevoer en nege verdagtes in hegtenis geneem weens ontvoering en die diefstal van ongesmede edelmetaal.

Die span wetstoepassers het die klopjag Vrydagoggend uitgevoer nadat hulle ondersoek na die ontvoering van Charmaine Botha, ʼn 42-jarige vrou van Welkom, Woensdag begin het.

Kapt. S’fiso Nyakane, Valke-woordvoerder, sê sy is na bewering as gyselaar aangehou, waarna die verdagtes ʼn losprys vir haar vrylating geëis het.

“Die saak is by die polisie in Welkom aangemeld en onmiddellik na die Valke vir verdere ondersoek verwys.”

Donderdag het die span op wenke gereageer en ondersoek ingestel na talle oproepe waartydens die verdagtes ʼn reuselosprys van die ontvoerde vrou se man geëis het. Die span het haar man gesê hoe hy te werk moet gaan wanneer hy die losprys oorhandig en Botha is ongedeerd vrygelaat.

Die lede van die Valke-span het die verdagtes agtervolg en hulle eindelik in Welkom se middedorp en op Odendaalsrus in hegtenis geneem.

Tydens die inhegtenisnemings het die span beslag gelê op bykans R1 miljoen kontant, ses voertuie en ongesmede goud.

Die verdagtes, tussen 31 en 38 jaar oud, sal na verwagting Maandag die eerste keer in die landdroshof in Welkom verskyn.

Botha, ʼn aktetikster by ʼn prokureursfirma in Welkom, is Woensdag buite haar werkplek ontvoer. Luidens berigte het die ontvoerders twee goudstawe van haar man, Johnny, wat by ʼn goudaanleg werk, geëis. Hy is glo gedreig dat die hele gesin ontvoer sou word as hy nie gehoor gee aan hul eis nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

wielie ·

Wow die skurke raak cheeky ne? Nog nie eers Kersfees nie !

Verlig ·

Gelukkig werk my man by ‘n brood fabriek. Soos die ekonomie nou lyk is almal in gevaar, een van die dae eis hulle een brood vir jou lewe.

Realis ·

Ek is so dik vir hierdie SKOLLIE STAAT & GANGSTERS PARADISE waarin ons daagliks moet OORLEEF!!!!!

Jurie ·

Vandat die onwettige immigrante in stroom raak misdaad al hoer, hulle maak nes hulle wil. Hulle weet dat staatsamptenare en munisipale amptenare hulle beskerm teen ‘n prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.