Nege vas oor rooftog by Kyalami-buiteklub

Argieffoto

Nege persone is in hegtenis geneem in verband met ʼn rooftog Sondagaand by die Kyalami-buiteklub in Midrand.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes het ook beslag gelê op vier ongelisensieerde vuurwapens en twee voertuie wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is.

“Die polisie is Sondagaand na die toneel ontbied in verband met ʼn rooftog. Toe polisiebeamptes by die toneel opgedaag het, was daar ʼn oor-en-weer geskietery en ses persone is in hegtenis geneem,” het hy verduidelik.

Verskeie polisie-eenhede is ingespan om na nog vyf verdagtes te soek. “Binne ʼn paar uur is nog drie verdagtes in hegtenis geneem.”

Masondo het gesê die bestuurder was in sy kantoor toe die gewapende mans hom oorval en geld geëis het. “Hulle het ʼn onbekende bedrag kontant gebuit voor hulle ook die klante van hul besittings beroof het.”

Die polisie het ook beslag gelê op 14 selfone en twee beursies wat in een van die voertuie was. “Die selfone en beursies is waarskynlik van klante en werknemers gesteel tydens die rooftog.”

Geen slagoffer is tydens die voorval beseer nie, maar verskeie het trauma opgedoen.

“Die soektog na die oorblywende verdagtes duur voort.”

Kyalami-buiteklub het die voorval op sosiale media bevestig. Volgens ʼn woordvoerder het die groep rowers Sondagaand die perseel onwettig betree en deur die klubhuis gehardloop en beursies en selfone van persone, wat in die kroeg gesit het, gesteel. “Hulle fokus was egter die kantoor en kluise. Hulle het springstof gebruik om die kluise oop te blaas. Niemand is beseer nie.”

Die buiteklub het Apcan Security bedank vir hul vinnige optrede en dat hulle die rowers buite die klub voorgekeer het. “Die rowers het op die reaksie-eenheid losgebrand en die veiligheidswagte het teruggeskiet. Die rowers het hierna in verskillende rigtings weggehardloop. Danksy ʼn gekombineerde poging deur Apcan, die Suid-Afrikaanse polisiediens en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, is ses van die rowers naby die klub in hegtenis geneem.”

Die woordvoerder het bygevoeg die buiteklub doen alles in sy vermoë om seker te maak dat só voorval nie weer plaasvind nie. “Ons vergader met Kyalami, Apcan, die polisie en die GPF om seker te maak dat lede en gaste veilig sal wees wanneer hulle die klub besoek. Die omvang van die verlies is nie in hierdie stadium bekend nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.