Drie mense is Woensdag dood nadat ʼn groep mense in Mthathta in die Oos-Kaap glo die reg in eie hande geneem het.
Lt.kol. Mzukisi Fatyela, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê inwoners van Chris Hanipark het vier mans met bosmesse, stokke en pangas aangerand. Drie is tydens die voorval dood, die ander man kon daarin slaag om te ontsnap. “Die gemeenskap het die mans van verkragting en roof aangekla,” het Fatyela gesê. Nege mans en vroue tussen die ouderdom van 22 en 29, is in verband met die moorde in hegtenis geneem.
Die nege persone sal na verwagting Vrydag in die Mthatha-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Volgens Fatyela het die voorval nie met die verkiesing verband gehou nie. – SAPA