Nege verdagtes in hof oor leeubene, tiervel

Die verdagtes het die polisie na ’n plaas gelei waar leeubene verwerk is. Die huurder van dié plaas het hom Dinsdag aan die polisie oorgegee. Foto: Verskaf

Die man wat die plaas naby Klerksdorp in Noordwes huur waarop leeus glo onwettig geslag is, het homself Dinsdag aan die polisie oorgegee.

Michael Frederich Fourie (42) het saam met nog agt verdagtes in Klerksdorp se landdroshof verskyn op aanklagte van die onregmatige besit van wildprodukte en betrokkenheid by verbode aktiwiteite wat betref ʼn beskermde of bedreigde spesie.

Die saak is tot 5 Desember uitgestel vir ʼn formele borgtogaansoek, sê kapt. Tlangelani Rikhotso, Valke-woordvoerder.

Al nege die verdagtes bly intussen in aanhouding. Die ander agt verdagtes is twee Suid-Afrikaners en ses buitelanders: Louis Fouche (22), Lourens Pretorius (24), Mguyel Huu Son (30), ene Tuan (33), Dao Chanh (38), Pham Khur (56), ene Chanh (56) en Quol Thang (60).

Die Valke in Noordwes en talle ander wetstoepassingsagentskappe in samewerking met die provinsiale departement van natuurbewaring het die agt verdagtes Sondag in twee voertuie voorgekeer op die N12 by die afdraaipad na Dominionville, sowat 25 km wes van Klerksdorp, waar hulle in ʼn konvooi op pad was na ʼn ongebruikte plaas in Mareetsane.

“ʼn Soektog deur albei voertuie het leeubene en -vleis, ʼn tiervel, gasbottels en -branders, houers, ʼn saag, messe en ander toerusting opgelewer wat na bewering gebruik is om die leeubene te verwerk,” het Rikhotso Maandag gesê.

Die verdagtes het die span wetstoepassers toe gelei na nog ʼn plaas, sowat 30 km buite Klerksdorp, waar die leeus na bewering geslag word, het Rikhotso gesê. “Op die plaas is ʼn leeuvel in bosse gekry en groot masjinerie in ʼn motorhuis wat blykbaar gebruik is om die bene mee op te saag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Geld is die wortel van alle kwaad. Hoe siek het ons samelewing geword. Mense het nog nie geleer nie.

Monica ·

Hoe siek kan n mens wees ?ek weet nie eers hoe om diè walglikhede in woorde uit te druk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.