Negejarige ernstig beseer toe motor haar tref

Cathren Trollip (9) is beseer toe ‘n motor haar raakgery het. (Foto: Verskaf)

ʼn Negejarige meisie van Krugersdorp wag tans op ʼn operasie in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal nadat sy Dinsdag deur ʼn motor raakgery is. Die voorval het kort ná 14:00 in Tannerstraat in Krugersdorp-Wes plaasgevind.

Esmarelda van Zyl (40), stigter van die WAS Foundation-liefdadigheidsorganisasie, sê klein Cathren (Katryn) Trollip, ʼn gr. 5-leerder by Laerskool Ebenhaeser, het saam met ʼn maat van dié organisasie se sopkombuis in Tannerstraat na ʼn nabygeleë winkel gestap toe die voorval plaasgevind het.

Cathren se ma, Riekie, is die bestuurder van die sopkombuis en Cathren het onder meer op die betrokke dag gehelp om paaseiers te tel. Die gesin woon ook op dié perseel.

Volgens Van Zyl het Cathren verskeie beserings opgedoen, onder meer ʼn gebarste lewer en gebreekte kakebeen.

Dit is nog onbekend wat presies tot die ongeluk gelei het, maar volgens Van Zyl het die motoris wel stilgehou en is die ongeluk by die polisie aangemeld.

Cathren kan ook nie veel van die voorval onthou nie.

“Sy het wel later die aand in die hospitaal vir Riekie gesê ‘mamma moenie kwaad wees vir die tannie wat my raakgery het nie, dit was ʼn ongeluk’.”

Cathren was glo wakker toe nooddienste en ʼn span van die plaaslike AfriForum-tak na die toneel ontbied is. Daar is gereël dat Cathren, wie se ouers nie ʼn mediese fonds het nie, na die Netcare Krugersdorp-hospitaal vervoer word waar sy onder sterk verdowing geplaas is en verskeie toetse ondergaan het.

Hoewel daar met behulp van die organisasie se ondersteuners glo meer as R40 000 ingesamel is om met Cathren se mediese uitgawes te help, was daar nie genoeg geld om Cathren by ʼn private hospitaal te opereer of na die Netcare Garden City-hospitaal oor te plaas om daar behandel te word nie.

Sy moes dus na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas word waar sy tans behandel word.

Al die nodige toetse en skanderings is glo wel by die Netcare Krugersdorp-hospitaal gedoen voor die oorplasing, wat bevestig het dat Cathren se lewer gebars en interne bloeding veroorsaak het.

Haar kakebeen is ook op twee plekke gebreek en die kakebeen is gekraak.

“Die dokter by Netcare het ons baie mooi bygestaan. Hy het self gebel en kon vir ons ʼn bed in die hoësorgeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal se kinderafdeling reël. Hy het ons verseker dat hul kinderafdeling baie goed is. Al die nodige verslae is aan dié hospitaal verskaf.

“Sy is gisteraand [Dinsdagaand] soontoe oorgeplaas. Hulle kon nie dadelik opereer nie, daar was te veel swelling. Maar sy word nou [Woensdagoggend] vir haar eerste operasie voorberei,” het Van Zyl gesê.

Volgens inligting wat Riekie Woensdag aan Van Zyl deurgegee het, sal dié operasie ongeveer twee uur duur.

ʼn Plaat sal onder meer in haar kakebeen gesit word en na ses tot agt weke weer verwyder word. Van die beskadigde tande agter in haar mond sal ook uitgehaal word. Haar lewer lyk egter goed en daar is nie in dié stadium meer bloeding of lekkasies nie.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.