Negejarige in Noordwes glo geboei, gemartel

Argieffoto (SAPD, Facebook)

Argieffoto (SAPD, Facebook)

ʼn Negejarige seun is glo deur ʼn vulstasie-eienaar geboei en gemartel nadat hy van diefstal verdink is.

“ʼn Saak van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig is by die Ganyesa-polisiestasie aangemeld,” het Ben Bole, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Noordwes, Dinsdag gesê. “Die negejarige seun is glo op 28 Mei deur ʼn vulstasie-eienaar van Disipi geboei en gemartel.” Disipi is ongeveer 50 km van Ganyesa.

Die kind is by ʼn plaaslike kliniek ondersoek. Hy het beserings opgedoen, maar geen frakture nie. “Die polisie het bevestig dat die verdagte nog nie in hegtenis geneem is nie, dan daar word aangevoer dat hy moontlik in Bloemfontein kan wees,” het Bole bygevoeg. “LUR Gaoage Molapisi het gesê die verdagte moet in hegtenis geneem word.”

Volgens die seun se suster het haar broer op 28 Mei nie skool toe gegaan nie, omdat hy olik was. “Hy het my omstreeks 08:00 vir kleingeld gevra om lekkergoed by die vulstasie te gaan koop,” het sy aan Sapa gesê. “Ons is later ontbied en hy was geboei en het gehuil omdat die winkeleienaar hom gemartel het.”

Die suster se naam kan nie bekend gemaak word nie om die seun se identiteit te beskerm.

Bole het gesê die man het die seun daarvan beskuldig dat hy skyfies gesteel het. Die polisie is ontbied en het in die kantoor met die man gepraat.

“Hulle het uitgekom en gesê ons moet die man vir geld vra om hom te laat behandel,” het die sussie bygevoeg. “Hulle het gevra ons moenie ʼn klag lê nie. Ons is die volgende dag na die polisiestasie om ʼn klag te lê.”

Sy sê die polisie het ʼn paar dae later aan die gesin gesê die verdagte is in Bloemfontein.

Die vakbondfederasie Cosatu het ook versoek dat die man in hegtenis geneem word.

Die polisie kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Babs ·

‘n Pakkie skyfies en ‘n kind word aangerand. Dit doen jy aan geen kind! Jy laat kom die persoon in wie se sorg die kind is en gee ‘n waarskuwing. Is die polisie dalk omgekoop?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.