Negejarige prof in SA vereer

Soborno Isaac Bari het Maandag die toekenning in Gauteng ontvang. (Foto: The Da Vinci Institute/Facebook)

ʼn Negejarige professor, wat glo een van die jongste professors ter wêreld is, is vandeesweek in Suid-Afrika vereer met ʼn toekenning vir ʼn uitstekende en merkwaardige intellektuele prestasie. Die “wonderkind” Soborno Isaac Bari is ook reeds vir ʼn Nobelprys benoem.

Die Da Vinci-instituut vir Tegnologiebestuur het Maandag sy toekenning vir maatskaplike argitektuur aan Bari in Modderfontein, Gauteng, oorhandig.

Dié toekenning word aan ʼn individu of ʼn groep individue toegeken wat deur insiggewende leierskap en ʼn passie vir die ontwikkeling van gemeenskappe en die groter samelewing ʼn besondere bydrae tot die herdefiniëring van die samelewing gelewer het.

Bari, wat die toekenning saam met die Suid-Afrikaanse toneelskrywer John Kani ontvang het, het in 2016 op vierjarige ouderdom ʼn boek genaamd The Love geskryf waarin hy sy veldtog teen terrorisme en wêreldvrede bevorder het.

Dié boek het verlede jaar wêreldwye lof ontvang, wat daartoe gelei het dat Bari ook die visekanselierstoekenning van die SP Pune Universiteit in Indië losgeslaan het.

Hy is verlede jaar met die Global Child Prodigy-toekenning bekroon en in Junie vanjaar het Indië hom vir ʼn Nobelprys vir vrede benoem.

Volgens die instituut is Bari ʼn Asiatiese Amerikaner wat in 2012 in New York gebore is. Toe hy net ses maande oud was, het hy reeds in volle sinne begin praat en teen tweejarige ouderdom het hy wiskundige en wetenskaplike probleme begin oplos.

Bari het op nege jaar oud reeds vele prestasies om mee te spog. (Foto: Soborno Isaac Bari/Facebook)

“My pa was die een wat vir my wiskunde en wetenskap begin leer het en uiteindelik het ek ʼn begeerte ontwikkel om te eksperimenteer en te sien hoe dinge werk,” het Bari aan IOL vertel.

“Die nuuskierigheid het gegroei en nou beskou mense dit as ʼn talent, maar ek beskou dit as ʼn passie.”

Toe Bari net vier jaar oud was, het dr. Lisa Coico, president van City College New York, hom reeds as die “Einstein van ons tyd” gedoop, nadat hy ʼn reeks wiskundige en wetenskaplike toetse voltooi het.

Oudpres. Barack Obama het in dieselfde jaar ʼn erkenningsbrief aan Bari gestuur om hom geluk te wens met sy prestasies.

Hy het op sewejarige ouderdom sy eerste salaris as ʼn professor ontvang toe hy as gasspreker by die Mumbai Universiteit se Ruis Kollege klas gegee het. In dieselfde jaar het Harvard Universiteit Bari se merkwaardige talent vir die wetenskappe erken.

Bari het saam met lede van sy familie ʼn YouTube-kanaal gestig, Bari Science Lab, waarin hy onder meer wiskundige en wetenskaplike probleme oplos.

Bari, wie se moedertaal Bengaals is, is glo besig om sy hoërskoolloopbaan te voltooi en hoop om binnekort ʼn voltydse professor in die wiskunde en wetenskappe te word.

  • Die Da Vinci-instituut se prys is al vantevore aan die voormalige Openbare Beskermer, prof. Thuli Madonsela, oorhandig, asook aan dr. Ali Bacher en Gift of the Givers se dr. Imtiaz Sooliman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Belinda ·

sjoe dis nou n mannetjie op wie mens mos nou kan trots wees. Wel gedaan jong man!

Tipper ·

Trots op jou,ek sien jy is n slim jong man,het jy dalk raad aan ons vir slegte dienslewering.

Wakkerslaper ·

Ek kan nou heeltemal verkeerd wees, maar ek dink hierdie is ‘n klomp nonsens…. Om die erkenning van professor te kry neem jare en jare se harde werk en navorsing. Ek kry nêrens hierdie s.g. professor se PhD tesis nie, nog minder wetenskaplike publikasies van hom. Daar is ook geen inligting van hom as ‘n student of werknemer op enige van die genoemde universiteite se webwerwe nie…? Die bronne wat wel melding van hom maak as “professor” lyk maar vir my onbetroubaar… en om genomineer te word vir ‘n Nobelprys is belaglik. Daar is erkende wetenskaplikes wat na dekades se harde werk nou eers benoem word vir ‘n Nobelprys… Soos ek sê, net my opinie.

Driekus ·

Ja jong ek stem saam met jou. ‘n Prof wat nog sy sekondere skool onderrig moet voltooi. Hoe werk dit? Noem hom dan maar eerder “Klaskaptein”. Vir nou sal dit beter pas……..

Ansie ·

Ek vermoed hy’s ‘n ere-professor. Zuma is ‘n ere-doktor en ons almal weet hoe ongeletterd hy is.

Wakkerslaper ·

Piet, sal jy omgee om vir my Soborno PhD tesis en wetenskaplike publikasies te stuur…? Ook by watter universiteit(e) hy gestudeer het? En waar hy tans navorsing doen?

Pietertjie ·

Jip, mens moet baie navorsing doen, inligting inwin en verwerk, om ‘n boek of selfs ‘n tesis te kan publiseer. Dinge het net bietjie te vinnig verloop om geloofwaardig te kan wees. Twee motors kan nie dubbel so vinnig ‘n gegewe afstand aflê as net een motor nie…

Hardekwas ·

Selfde as hier. Dlamini zuma, ntsimande en andere, kwansuis nou dotors. Ha, ha, ha, ha. Ek verstik sommer aan my eie pap.

Misky ·

Sjoe, kan nie glo wat ek nou net gelees het nie!!!! Werklik merkwaardig en sy ouers kan beslis baie trots wees op hom.

Jan ·

Reeds ‘n professor maar nog besig met sy skool loopbaan?
My somme is miskien nie so goed soos syne nie maar hier maak 1 + 1 nie 2 nie.

Vonkprop ·

Het hom op die nuus gesien. Hy sal ‘n mens mal praat. Praat vinnig en aanhoudend.

Wakkerslaper ·

In watter opsig? Ek het nog geen van sy wetenskaplike publikasies gesien nie…? En hoe het Soborno die wetenskap, medisie of letterkunde onherroeplik verander om ‘n Nobelprys te verdien?

Vra maar net…

piet ·

Lees oor hom dan sal jy verstaan hoekom hy ‘n Nobelprys verdien.

Wakkerslaper ·

Ek het probeer om sy PhD skripsie en internasionaal gepubliseerde wetenskaplike artikels te lees, maar kry niks. Kan jy dalk help?

Ansie ·

En in SA kan die meeste 9-jariges deesdae skaars lees, skryf en spel.

KB ·

Dit klink so belaglik soos die sogenaamde tienling-storie.
1. Hoe kan jy professor word op 7 jarige ouderdom?
2. Hoe kan jy benoem word vir ‘n Nobelprys vir vrede, SONDER LEWENSERVARING?!
3. En graadloos…maar hy is ‘n professor!
4. Verbeel jou! ‘n “professor” sonder matriek?!
Nee wat. Aan hom sal ek my nie steur nie. Die wêreld is ‘n lekker gekkespul.

Harley Davidson ·

As Suid-Afrika die kaliber briljante mense gehad het om sleutel posisies te vul sou dit met ons almal goed gegaan het.

Fritz ·

Slim maar nie ‘n professor nie! Daarvoor het jy ‘n PhD en baie internasionale publikasies nodig!

KhoiKhoi ·

Wil geensins afbreuk maak aan sy intelligensie nie.
Maar wat van sosialisering.
Kindwees, vuil en in die modder speel.
Daar is ‘n advertensie wat ek so van hou.
Die klein dogtertjie wat met haar rok en reenstewels plat op haar magie lê en swem!
Laat die oupa hart lekker klop!
Weet of di pa hart dit sou kan vat nie!

SlinkseKoljander ·

Sal dit graag hier wil sien met ons skool opvoeding.
Jammer my fout, die regering probeer ons mense dom hou sodat hulle weer en weer vir hulle kan stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.