Negejarige, tiener sterf in Midrand-ongeluk

(Foto: Verskaf)

Paramedici van Emer-G-Med is Saterdag net voor 17:00 na ʼn ernstige botsing op die N1-Suid naby die Olifantsfontein-afrit ontbied.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, het ʼn sportnutsvoertuig omgeslaan nadat dit met ʼn ander voertuig gebots het.

Die slag van die botsing het veroorsaak dat die sportnutsvoertuig gerol het waarna sommige van die insittendes uit die voertuig geslinger is.

“Drie kinders is na bewering voor paramedici se aankoms deur omstanders na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas.

“ʼn 17-jarige seun het egter kritieke beserings opgedoen toe hy uit die voertuig geslinger is. Emer-G-Med-paramedici het verskeie lewensondersteunende resussitasiemetodes toegepas, maar die seun is weens sy kritieke beserings op die toneel dood verklaar,” sê Van Reenen.

Ná verdere ondersoek op die ongelukstoneel het paramedici op ʼn negejarige seun in die omgeslaande voertuig afgekom. Hy het nie gereageer nie.

“Daar was niks wat paramedici kon doen om hom by te staan ​​nie en hy is ook op die toneel dood verklaar.”

Van Reenen sê ʼn volwasse man en vrou in dieselfde voertuig, sowel as drie insittendes van die ander voertuig, het matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is.

“Die oorsaak van die botsing en die gebeure wat tot die noodlottige ongeluk gelei het, sal deur die polisie ondersoek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.