Negejarige verdrink by Mosselbaai; man verdrink in KZN

Argieffoto van Diasstrand. (Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Woensdag reageer op twee afsonderlike voorvalle by Diasstrand in Mosselbaai in die Wes-Kaap.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê die polisie het die organisasie omstreeks 11:00 ontbied waar twee seuns in die see in die moeilikheid beland het.

“Met die span se aankoms is ʼn 11-jarige seun, van die omgewing, veilig buite die water aangetref. ʼn Plaaslike branderplankryer het na ʼn 12-jarige seun, ook van die omgewing, uitgeswem en sy branderplank as ʼn dryfmiddel gebruik.”

ʼn Swemmer van die NSRI het die twee uit die water gehelp.

“Die branderplankryer word geloof dat hy so vinnig reageer het. Die seun is aan sy ouers oorgegee. Hulle moet hom monitor vir enige simptome ná die byna-verdrinking.”

Lambinon sê nog ʼn voorval van verdrinking is vroeër ook by Diasstrand aangemeld.

“ʼn Negejarige seun het omstreeks 09:30 in die water verdwyn. Die twee afsonderlike voorval is byna terselfdertyd by die polisie aangemeld.”

NSRI Mosselbaai, die plaaslike polisie en ʼn ambulansdiens, ondersteun deur ʼn privaat helikopter, privaat vliegtuig en verkeersdienste se hommeltuig is ingespan om ʼn omvattende lug, see en kuslyn-soektog te doen na die negejarige seun.

“Daar was egter geen teken van die seun nie. Die soektog duur voort.”

Intussen het Emer-G-Med gesê die span het omstreeks 16:00 saam met die metropolisie se soek- en reddingseenheid reageer op ʼn verdrinking in die Blue Lagoon-omgewing by die Umgeni-riviermond. “Lewensredders het ʼn man, vermoedelik 35 jaar oud, behandel. Paramedici het die man ondersoek, maar hy het geen teken van lewe getoon nie.”

Die man is op die toneel dood verklaar. Hy wou vermoedelik die strandmeer oorgesteek het toe hy in die moeilikheid beland het.

Plaaslike owerhede stel ondersoek in.

Blue Lagoon (Foto verskaf deur Emer-G-Med)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

As kind het ek by die see grootgeword en kon nooit begryp waarom my ouers ons nooit toegelaat het om alleen see toe te gaan nie. Vandag gaan dit my verstand te bowe dat kinders alleen sonder toesig in die see swem Ouers sit en kuier op die strand en kinders baljaar in die water, een frats golf en ‘n kind verdwyn onder die water. Het dit self as kind beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.