Nehawu bly oor 5 300 poste

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid. Foto: ANA

Nehawu verwelkom die aankondiging dat meer as 5 300 poste vir gesondheidswerkers landwyd geskep gaan word.

Dr. Aaron Motsoaledi, gesondheidsminister, het die aankondiging gedoen ná ʼn vergadering van die Nasionale Gesondheidsraad. Hy het gesê dié stap is nie net deel van die presidensiële stimuluspakket nie; dit strook ook met die aanbevelings van die presidensiële gesondheidsberaad wat ʼn paar weke gelede gehou is.

Die poste sal in Januarie aanstaande jaar gevul word, sê Nehawu, en voeg by hulle is verheug dat ʼn groot gedeelte van die nuwe poste aan verpleegsters toegewys sal word. “Dit bewys die gevolgtrekking van ons verpleegsterseminaar verlede maand dat Suid-Afrika meer verpleegsters nodig het om toe te sien dat hospitale en klinieke genoeg personeel vir hul werklading het,” sê die vakbond.

Nehawu meen ʼn tekort aan personeel is een van die hoofoorsake van die krisis in die openbare gesondheidsektor. Die ander is uitkontraktering, personeelwerwing, instandhouding van mediese toerusting en menslike hulpbronne.

“Die openbare gesondheidsektor gaan die ergste onder personeeltekort gebuk,” meen Nehawu. “Dit word van ons lede en werkers verwag om die pligte uit te voer wat veronderstel is om die werk van vyf ander mense te wees.

“ʼn Verpleegster word gedwing om ʼn portier, administrateur en versorger te wees. Die gevolg is ooreisde personeellede wat die gehalte van dienslewering versleg.”

Motsoaledi het tydens sy aankondiging ook gesê: “Die aanstelling van gesondheidswerkers, wat ʼn breë spektrum van gesondheidswerkers soos registrateurs, aptekers, aptekersassistente, radiografiste, spesialiste, sielkundiges, fisioterapeute en ander insluit, sal baie help om die gehalte van gesondheidsorg in staatsfasiliteite te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lewies ·

NEHWU terwille van die waarheid “‘n Tekort aan bekwame, geroepe, toegewyde en deeglik opgeleide personeel is die oorsaak van die krisis in die openbare gesondheidsektor”.

penny ·

Al plaas hul nog n 100 000 duisend in daardie hospitale ,kan hul dit nie laat werk ,julle weet tog wat is al daardie probleme ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.