Nehawu en Sassa kom tot ʼn vergelyk

Argieffoto

Die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) het gesê hy sal sy landwye staking by Sassa-kantore beëindig nadat die departement van maatskaplike ontwikkeling ingestem het om die implementering van die omstrede biometriese stelsel op te skort hangende verdere toetse.

Nehawu-lede het Woensdag landwyd by die kantore van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) begin staak in protes teen die gebruik van ʼn biometriese stelsel om die uitbetaling van maatskaplike toelae te prosesseer. Dié stelsel sou gebruik word nadat die uitbetalings vanaf Cash Paymaster Services na die Suid-Afrikaanse Poskantoor oorgeskuif het.

Die vakbond het Woensdag met die minister van maatskaplike ontwikkeling vergader waar die partye ooreengekom het dat dit nodig was om te fokus op hoe die buitediensstelling van betaalpunte veral begunstigdes in landelike gemeenskappe benadeel het.

Nehawu en die departement het in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle stem saam dat die kwessies wat tot die staking gelei het, beter hanteer kon word. Albei partye het ingestem om te help om ʼn meer vriendskaplike verhouding te bou.

“Dit word van al die werkers verwag om Maandag terug te keer werk toe en die partye het ooreengekom dat die ‘geen werk, geen betaling’-beginsel nie hier toegepas sal word nie. Werkers wat aan die staking deelgeneem het, sal ook nie gestraf word nie,” het hulle gesê.

Die partye sê die gebruik van biometriese data sal vir eers opgeskort word terwyl toetse gedoen word om enige onbedoelde gevolge te vermy.

Nehawu het gekla dat die nuwe stelsel ʼn reeks uitdagings veroorsaak wat nie deel uitmaak van die posbeskrywing van administratiewe werkers nie en waarvoor hul nie opgelei is of vergoed word nie. Die vakbond voer ook aan dat dié nuwe stelsel meer vatbaar is vir manipulasie, bedrog en korrupsie.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ingestem dat die werkers eers weer op die vorige nasionale koppelvlak-stelsel SOCPEN sal werk wat aan hulle bekend is, terwyl gekyk word na die sleutelprestasieareas van toelaagadministrateurs en toekomstige vergoeding vir bykomende pligte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.