Nehawu na hoogste hof oor staatsamptenare se salarisse

Die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) het in die Konstitusionele Hof aansoek gedoen om verlof tot appèl teen ʼn uitspraak in die arbeidsappèlhof wat staatsamptenare se salarisverhogings van die tafel gevee het.

Die hofgeding spruit uit ʼn driejaar-loonooreenkoms wat in 2018 aangegaan is. Die ooreenkoms is in die eerste twee jaar nagekom. Die regering het daarna egter gesê hy kan nie die laaste gedeelte daarvan nakom nie omdat hy dit bloot nie kan bekostig nie.

Die appèlhof het in Desember verlede jaar bevind die afdwing van die klousule wat spesifiek met die salarisverhogings verband hou, is onregmatig en ʼn skending van die Grondwet.

Nehawu voer egter aan die hof het gefouteer in sy bevinding en hy het besluit om die Konstitusionele Hof regstreeks te petisioneer. Die vakbond sê hy glo vas die uitspraak is ʼn oortreding van die Grondwet en ondermyn die Arbeidswet en gesamentlike bedinging in die geheel.

“Hierdie is regte waarvoor werkers voor die aanvang van die 1994-bedeling geveg het; dit sluit in die totstandkoming van die Arbeidswet van 1995. Die bedingingsregte wat werkers tans geniet is nie op ʼn silwer skinkbord aangebied nie. Ons vind dit dus onaanvaarbaar dat die regering dit met opperste minagting behandel,” het Zola Saphetha, sekretaris-generaal van Nehawu, gesê.

“Die regering kan nie toegelaat word om ʼn bindende ooreenkoms sommer so te herroep nie.”

Nehawu sê gesamentlike bedinging is in die spervuur en word veral deur die regering bedreig. “As die regering toegelaat word om die salarisverhoging te herroep, gaan dit ʼn slegte presedent skep wat ander werkgewers gaan toelaat om bindende ooreenkomste te verontagsaam.”

Die vakbond sê ook die nasionale tesourie en die departement van staatsdiens en administrasie het in die hof teenstrydige argumente aangevoer. Die tesourie het aangevoer die hele ooreenkoms is onregmatig, terwyl sy eweknie by staatsdiens en administrasie aangevoer het die ooreenkoms is wel regmatig, maar kan weens onbekostigbaarheid nie in werking gestel word nie.

Die kabinet het die ooreenkoms destyds goedgekeur en Nehawu sê hy vind dit vreemd dat die hof beslis het die minister van finansies moet die ooreenkoms bekragtig, selfs nadat die kabinet dit goedgekeur het.

Nehawu sê hy wag nou op ʼn datum van die Konstitusionele Hof en hoop dat die hof in sy guns sal beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kokerboom ·

Op watter planeet leef die vakbonde? Eiebelang, gierigheid en verlaagde inkomste is natuurlik dringende dryfvere. Skrif is aan die muur!

Francois Le Cochon ·

Ek kan my nie uitspreek oor die meriete van die saak nie, maar wat ek wel weet is dat staatsamptenare, onderwysers uitgesluit, hoe”r as markverwante salarisse verdien, vir lae produktiewe uitsette.

Keelvol ·

Het jy al op n moord toneel gestaan? Het jy al n lykskouiing by gewoon? Was jy al verskreeu en gevloek deur n wit man of vrou?

Keelvol ·

Onderwysers kry 4 vakansies n jaar. Terwyl ander staats amptenare oor Desember moet werk.

Francois Le Cochon ·

Johan, onderwysers vat werk huis toe en werk tot laat aande. Hulle kan nie oortyd hiervoor eis nie.

Baardman ·

Talle besighede en werkers in ander bedrywe moes noodgedwonge met minder oor die weg kom, bloot eenvoudig omdat daar agv inperkings minder of geen geld was nie. Omstandighede verander. Kan hulle nie insien dat daar nie meer geld oor is nie. Wees bly dat jy nog n werk het wat jou elke maand betyds en ten volle betaal.

Keelvol ·

Baardman ek stem hartlik met jou saam. Daar is net een probleem, as jy 10 biljoen vir n niewinsgewende lugludery kan bedreigd willig, dan skep jy die indruk daar’s geld. As jy miljoene vir taxi’s gee wat nie n send belasting betaal nie, dan is daar geld. Die staats vermors geld.

Samuel ·

Dit is tyd dat Staatsamptenare ook in landsbelang begin optree en ophou om net te wil skep. Julle kan mos.

Hennie J ·

As hierdie n grondwetlike saak is, eet ek my hoed (of cele se hoed) op. Ek gaan egter voorspel dat die saak toegelaat gaan word en die regters nie so moeg gaan wees nie en dit spoedeisend sal aanhoor.

marius ·

Die vleispotte van Egipte is binne die koning se paleis leeg gevreet en toe verkoop . Hulle kan maar gil en skreeu en ou koeie uit die sloot opgrawe soos hulle wil . Die realiteit dat daar nie eers ‘ n krummel oor is nie , laat hulle nou soos mal miere rond skarrel . Hul gepoetste klater goud het nou afgedop .

Keelvol ·

Ek is selfs n staatsamptenaar en as daar nie geld is vir verhogings nie, dan is daar nie. Plaas dat die vakbonde die spandabelrige uitgawes van die staat aanvat.

My siening ·

Hulle behoort n verlaging aanvaar want daar is10 wat een job doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.