Nehawu wil staak by departement oor werksgriewe

Die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) het Maandag gesê hulle oorweeg dit om te staak by die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die vakbond word hul eise aan dié departement “deurlopend” geïgnoreer.

“Die nasionale vakbond het verlede jaar ʼn sertifikaat ontvang om te staak en oorweeg nou ʼn kennisgewing van staking aan die werkgewer,” lui die verklaring.

Die nasionale vakbond het in Desember 2015 na die minister van justisie, adv. Michael Masutha, opgeruk om ʼn memorandum van eise te oorhandig. Oor die afgelope vier jaar het die departement egter nog aan geen eise gehoor gegee nie.

“Dit frustreer ons dat die verteenwoordigers van die departement voortdurend na die bedingingslokaal kom sonder enige mandaat van die bestuur. Daar is dus geen vordering gemaak wat ons vorige griewe betref nie.”

Die vakbond het sy kommer uitgespreek oor die standaarde van beroepsgesondheid en -veiligheid in sommige geboue wat deur die departement beset word. Dié standaarde word volgens die vakbond nie nagekom nie.

Luidens die verklaring is die meester van die hooggeregshof se kantoor in Marshallstraat, Johannesburg, nié net ʼn gevaar vir werknemers nie maar ook kliënte wat dit besoek. Die departement se liasseringskantore in Kaapstad en Johannesburg laat ook veel te wense oor met dakke wat lek.

Die saak is by die departement aangemeld om reg te stel, maar die departement het vakbondverteenwoordigers gedreig wat op ʼn oplossing vir die probleem aangedring het. “ʼn Dringende oplossing word benodig omdat die departement nie die belangrike papierwerk [wat by dié kantore in lêers is] bewaar nie.”

Luidens die verklaring is die vakbond bekommerd oor die veiligheid en gesondheid van sy lede en vra dus dat die departement aan die nodige standaarde voldoen om lede se veiligheid te verseker.

Die vakbond dring ook daarop aan dat ʼn senior beampte aangestel word met wie hy kan onderhandel aangesien die huidige sisteem van onderhandeling duidelik nie werk nie. Alle vakante betrekkings moet ook by die departement gevul word en alle kontrakwerkers wat langer as drie maande by die departement is, moet permanent aangestel word.

“Die kennisgewing om staking sal uitgereik word sodra ons interne proses afgehandel is. As die werkgewer die staking wil vermy, moet dié aangeleenthede onmiddellik aandag kry,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.