Neilson wil burgemeesterskomitee dán aanstel

Ian Neilson (Foto: ANA/Stad Kaapstad)

Ian Neilson, waarnemende burgemeester van Kaapstad, het Sondag gesê hy beoog om teen Maandagmiddag ʼn nuwe burgemeesterskomitee aan te stel.

Neilson het gesê hy word wetlik verplig om ʼn burgemeesterskomitee aan te stel om hom te help met die bestuur van die stad en dat hy gereed is om dié komitee bekend te maak.

Hy het Sondag gesê hy sal egter “uit respek vir die hof” tot Maandagmiddag wag, aangesien die hooggeregshof in Kaapstad Vrydag uitspraak voorbehou het in Patricia de Lille se dringende hofaansoek om haar amp te behou totdat die regsgeding rondom die geldigheid van haar verwydering uit haar pos aangehoor word.

Neilson sal na verwagting teen Maandagmiddag 15:00 die aankondiging maak indien De Lille nié tydelik in haar pos heraangestel word nie. “Ek sal nie langer as dit kan wag nie, want die bestuur van die stad sal sonder ʼn burgermeesterskomitee in gedrang wees. Die komitee moet onder meer politieke leiding gee aan die begrotingsproses wat reeds ver gevorder is vir die komende munisipale finansiële jaar,” het hy gesê.

De Lille is Dinsdag uit haar amp verwyder nadat die DA se federale uitvoerende komitee bevestig het dat haar DA-lidmaatskap beëindig is, wat dus effektief beteken sy is ook haar burgemeesterspos kwyt.

Haar regspan voer aan gegewe dat die spanning tussen De Lille en lede van die DA-koukus in die stadsraad al vir langer as ʼn jaar aan die gang is, sal die feit dat sy haar pos steeds beklee nie enige skade aan die Stad Kaapstad of die party doen nie.

Regter Patrick Gamble het vroeër gesê gedeelte B van De Lille se aansoek – wat die grondwetlike geldigheid van die beëindigingsklousule betwis – sal op 25 Mei deur ʼn volbank regters van die hooggeregshof aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.