Nel, Nene wys OB-benoemings van die hand

Staatsaanklaer Gerrie Nel tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel, voormalige minister van finansies Nhlanhla Nene en oudpresident Nelson Mandela se vrou, Graça Machel, is van die hoëprofielpersone wat benoemings vir die pos van die openbare beskermer (OB) van die hand gewys het.

Makhosi Khoza, voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee wat getaak is met die benoeming van ʼn kandidaat vir die pos van die nuwe OB, het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie bekend gemaak altesaam 59 persone sal vir die kortlys oorweeg word.

Die huidige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se termyn verstryk in Oktober. Madonsela en haar adjunk, Kevin Malunga, is ook benoem. Volgens die Grondwet mag Madonsela egter nie ʼn tweede termyn dien nie, aangesien die OB slegs vir ʼn tydperk van sewe jaar mag dien.

Volgens Khoza sal ʼn regskwalifikasie tot voordeel strek vir ʼn voornemende kandidaat.

Die lys van name sal bekend gemaak word en Khoza het gesê die belangrikste deel van die proses is dat dit deursigtig moet wees en onderwerp moet wees aan openbare terugvoer. Die publiek moet voor 8 Julie terugvoer gee oor die lys van genomineerdes. Daarna sal ʼn kortlys saamgestel word vir onderhoude op 10 Augustus.

Dit is nog nie bekend hoeveel persone op die kortlys sal wees nie.

Khoza het gesê ʼn beswaar teen ʼn genomineerde beteken nie outomaties dat die persoon gediskwalifiseer word nie.

Sy het verduidelik sy sal oorsigtelik optree tydens die keuringsproses, maar 60% van LP’s moet die persoon, waarop die komitee besluit, goedkeur voor pres. Jacob Zuma die persoon amptelik in die pos sal aanstel.

Thabo Mbeki, Dikgang Moseneke en adv. Dumisa Ntsebeza het ook hul benoemings van die hand gewys.

Maroela Media sal ʼn lys van die genomineerdes publiseer sodra dit beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pietman ·

Ek is seker adv. Gerrie Nel sou uitstekend gedoen het in die pos van OB

KarooKlong ·

Ek ook maar ek het dit maar van die hand gewys omdat ek melk in my koffie drink.

Lida ·

Ek dink hulle het dit van die hand gewys want hulle weet dit sal net weer ‘n gekokery afgee as JZ ‘n sê het. Nel sou nogal al die media aandag geniet het.

Cherokee ·

Wanneer jy ‘n slag reg lees sal jy uitvind dat Gerrie Nel die een is wat dit nie aanvaar nie.

Pietman ·

As Thuli Madonsela vir nog ‘n termyn kon dien, sou Zuma waarskynlik nie weer die “fout” maak om haar aan te stel nie! Mens sou kon hoop dat sy nou na die DA sal deflekteer…

C ·

Nee wat ou Pietman. Kyk mooi, sy gaan haar by die EFF aansluit, hou haar maar dop. Alhoewel ek glo Thuli het haar goed van haar taak gekwyt, dit is jammer haar tyd loop nou uit.

Buitestaander ·

Gerrie Nel het sy oog op ‘n regters pos en sal nie ‘n minder waardigere pos aanvaar nie.

Bietjie stout wees ·

Ek kan nie die een laat verbygaan nie ek moet dit sê, natuurlik nie, nie Gerrie nie, die kollig sal lekker wees, maar dan kan hy nie die Hollywood ster word wat hy wil nie. Verder moet dit ernstig, reguit en nie ‘n bespotting wees nie, bietjie te veel opofferings.

Johann ·

Dankie tog! N Regskwalifikasie…net bekommerd gewees dit gaan weer n Meesters in Bokwagtery wees. Of gelykstaande aan die SAUK se eie HOUDINI? Laat vryheid van spraak oombliklik verdwyn….

Lance ·

Dis nou jammer van Gerrie …hy weet seker dat hy nie omkoopbaar is nie …moet se Thuli was puik en kon maar die presedent se pos gevat het

John ·

Dis waar Johann, ‘n goeie advokaat het baie vyande. Hy weet ook wanneer om nee te se.

jaco ·

Nel sal in elk geval nie die pos van OB kry nie, want hy is ‘n wit Afrikaanse man. En as ek swart was en ek moes sy aansoek oorweeg, sou ek byvoeg dat hy ‘n rassis is deur regter Masipa se aanvanklilke sagte vonnis aan Oscar te bevraagteken. Sy kritiek op haar het gelyk soos ‘n tipiese beskuldiging van “Jy is incompetent omdat jy swart is”.

Jacqueline ·

Gerrie sou ‘n uitstekende kanidaat gewees het. Dis reg of weg in sy oë en beslis wat ons land bitter nodig het. Hy sê nie wat jy graag wil hoor as jy die ander party in ‘n saak is nie en hy is blatant reguit – hy staan op en baklei vir iets tot die bitter einde. Hy doen sy werk deeglik…ek saluut jou Gerrie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.