Nelson Mandela-stigting se hoof kry trekpas

Sello Hatang, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-stigting, is die trekpas gegee. (Foto: Facebook)

Die Nelson Mandela-stigting het vandeesweek sy uitvoerende hoof die trekpas gegee nadat werknemers van die stigting ernstige klagtes oor Sello Hatang se gedrag by die werk geopper het.

Hatang is gepos terwyl hy besig was om sy kennistydperk te werk. Hy het in Mei amptelik bedank, maar was sedertdien op spesiale verlof geplaas terwyl die bewerings teen hom ondersoek is.

Prof. Njabulo Ndebele, voorsitter van die stigting se raad, sê klagtes oor Hatang se optrede by die werk is kort nadat hy sy bedanking ingedien het, aan die lig gebring.

“Die ondersoek na die bewerings het ag geslaan op die regte van die klaers en dié van Hatang, asook die raad se verbintenis om die stigting se kernwaardes van respek en vertroue te verskans,” sê hy.

“Nadat die bevindinge van die ondersoek gemaak is, het die raad tot die gevolgtrekking gekom dat Hatang se optrede onbetaamlik en onaanvaarbaar was vir iemand in sy posisie en dat hy summier ontslaan moet word.”

Ndebele sê die raad gaan nie uitbrei oor die bewerings wat teen Hatang gemaak is nie, aangesien dit reeds “baie benoudheid vir die stigting veroorsaak het, asook sy werknemers en die breër gemeenskap van belanghebbendes”.

“Ons fokus is nou om te verseker dat die stigting se bedrywighede voortgaan, veral in aanloop tot Madiba se verjaardagherdenking op 18 Julie, en om die stigting se mandaat te vervul om Madiba se visie van vryheid en gelykheid vir almal te bevorder.”

Die proses om ʼn nuwe uitvoerende hoof aan te stel sal na verwagting binnekort begin.

Intussen word daar nou met die trustees en die tussentydse bestuur gewerk om die werknemers van die stigting se moraal op te bou “ná hierdie uiters uitdagende episode”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Strandloper ·

Wat is die mysteries om die knaap? Wonder of sy oë dalk oop gegaan het?

Miena ·

Ai toggie – wat kan nou so erg wees wat die man aangevang het? Is ons as SA’ners nie al gewoond aan elke wandadige gedrag waaraan jy kan dink nie?

JohanR ·

Gee iemand nog ooit geld aan die Nelson Mandela stigting, Thabo Mbeki stigting, Jacob Zuma stigting? Nee wat ek gaan vreet myself en familie liewers dik by ‘n top restaurant!

Marthinus W ·

In 2019 was hy nogal in die nuus, onder andere met onderhoude met Gareth Cliff. Hy het gese hy wil Kilimanjaro 5 keer uitklim, met sy gesin, om geld in te samel vir die stigting. Die gevoel was dat hy sy posisie misbruik om homself en sy familie te bevoordeel. (Ek het kommentaar gelewer daarop) Ek weet nie of sy afdanking dalk daaroor gegaan het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.