Nelson Mandelabaai nou rampgebied

Argieffoto: https://pixabay.com

Athol Trollip, burgemeester van Nelson Mandelabaai, het die metro amptelik tot ’n rampgebied verklaar.

Dit volg ná die hoofdamme se stoorvlakke Maandag tot 38,5% gedaal het. Trollip het tydens ʼn perskonferensie gesê die metro is sedert verlede Julie ongewoon droog.

“Ons staar ʼn krisis in die gesig; ons watervoorsieningskanaal het inmekaargestort – dis hoekom dit so belangrik is om water te bespaar,” het Trollip gesê.

John Best, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê die nodige prosesse vind plaas om die ramp ook in die Staatskoerant te publiseer. Volgens hom kan dié proses ʼn week neem. “Slegs wanneer dit gepubliseer is, kan ons by die regering aansoek doen vir finansiële bystand,” het Best gesê.

Annette Lovemore, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese, het verbruikers gemaan om water spaarsamig te gebruik en gesê die beperking is nou 40 kiloliter per huishouding per maand.

“Dit is egter baie water – dit is nie eintlik aanvaarbaar om soveel water te gebruik nie, dis beter om in dié stadium tussen 10 tot 15 kiloliter te gebruik,” het Lovemore gesê.

Kontrakteurs sal van herwinde water gebruik moet maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ai ·

Wanneer Suid Afrika se beveling op sy kniee gaan en bid vir vergifnis en vrede sal dinge regkom. Tot en met dan gaan alles net erger word. Daar is dinge wat ons kan beheer, en daar is dinge wat ons nie kan beheer. Al die voorbereiding in die wereld help nie as daar nie n druppel reen val nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.