Nelson Mandelabaai ook in waterkrisis gedompel

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Damvlakke in die Nelson Mandelabaai-damme wat drinkwater verskaf is tans op 26,94% die laagste wat dit nog ooit gemeet was nadat dit selfs nog meer gesak het as 2010 se rekordlaagte van 31%.

Masixole Zinto, die stad se burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese, het gesê dié 26,94% is die laagste nóg vergeleke met die 31% wat in 2010 gemeet is.

“Alhoewel die stad alle pogings aanwend om watergebruik en -vermorsing te verminder het die feit dat dit nie gereën het nie, nie gehelp nie.”

Athol Trollip, die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, het verlede jaar dié omgewing as ʼn rampgebied verklaar.

Zinto het gesê strenger maatreëls en miljoene rande is bestee om die waterverspreidingsinfrastruktuur te verbeter en waterlekke stop te sit. “Meer loodgieters is aangestel en die privaatsektor dra ook by,” het Zinto gesê.

Volgens hom is die metro tans besig met waterbesparingsinisiatiewe met skole, besighede en kerke as die hooffokusareas.

“Tydens die onlangse somerseisoen het die stad die besluit geneem om sommige van die stad se swembaddens te sluit. Verlede jaar het die burgemeester ʼn boorgat in die Motherwell-begraafplaas oopgemaak waar mense en veral waterverwante besighede verniet water mag gebruik.”

Volgens Zinto sal die infrastruktuur en ingenieursdepartement die karwas-besighede in arm omgewings bystaan. Hulle sal volgens hom boorgatwater aan dié besighede aflewer om die lading op munisipale krane te verlig.

ʼn Dringende vergadering van infrastruktuur en ingenieurswese sal glo aan die einde van volgende week gehou word om verdere beperkings te bespreek.

“Die koalisieregering beskou die huidige waterkrisis in ʼn baie ernstige lig en doen ʼn beroep op die mense van Nelson Mandelabaai om saam te werk aan hierdie waterbesparingsmissie.”

Kaapstad in die naburige Wes-Kaap gaan ook gebuk onder erge watertekorte en damvlakke is kritiek laag. Huishoudings is tot 10 500 liter water per maand beperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

lyk my ‘n top ANC-man se uitpraak van so amper ‘n jaar gelede is waar: die Here straf net die plekke in SA waar die DA in beheer is met droogte.
Blykbaar is die Here ten gunste van die ANC se korrupsie, vermorsing van staatsgeld, regstellende aksie, Gupta-bevoordeling, Nkandla ens ens.
Goeie skoon regering is blykbaar sonde en moet met droogte gestraf word.

Mike Kaapstad ·

mmmmm ek het n stukkie grond met water wat uit die berg uitloop , omtrent 10 000 L n uur , wonder of ek een van die dae water kan verkoop………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.