Nelson Mandelabaai se Dag Zero het aangebreek

(Foto: pixabay)

Die Nelson Mandelabaai-metro versoek inwoners om water spaarsamig te gebruik weens die waterkrisis waaronder dié stad al sowat ʼn week lank gebuk gaan.

Die metro het gesê Dag Zero het vir die stad aangebreek terwyl talle inwoners en ondernemings, hoofsaaklik in die noordelike en westelike dele van Port Elizabeth, al sedert verlede week onderbrekings in watervoorsiening ervaar. Hierdie onderbrekings het Maandag voortgeduur.

“Dag Zero het amptelik aangebreek. Ons gebruik meer water as wat in ons opgaardamme beskikbaar is,” het Mongameli Bobani, burgemeesterskomiteelid van die metro se komitee vir infrastruktuur en ingenieurswese, gesê.

Bobani het die waterkrisis veral toegeskryf aan die inwoners se hoë waterverbruik wat groot druk op die metro se waterbronne plaas, aangesien die stad steeds met ʼn droogteramp te kampe het. Hy sê daar word tans sowat 290 megaliter water per dag gebruik.

“Ons is veronderstel om 268 megaliter of minder per dag te gebruik. Die metro se waterbronne kan nie soveel water voorsien nie,” sê hy. Die metro beoog om waterverbruik tot 250 megaliter per dag te beperk om só water te bespaar.

Die stad se opgaardamme is tans gesamentlik 18,91% vol.

Die DA beweer die stad verloor sowat 46% van sy verwerkte water nog voordat dit die inwoners bereik. “Sowat 130 megaliter van die 290 megaliter water word daagliks net vermors,” sê Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap. “As die verliese buite rekening gelaat word, kan die metro onder die beskikbare 250 megaliter water per dag gebruik.”

Bobani sê as deel van die langtermynoplossing het die metro tot dusver 15 700 waterlekkasies herstel, wat die stad miljoene liters water gaan spaar en keer dat water net verlore gaan. “Ons het tans ʼn aantal projekte om ons watervoorsiening te verbeter, en dit sluit die Coegakop-waterbehandelingsaanleg in,” sê hy.

Bhanga voer aan die munisipaliteit weet nie hoe om die waterkrisis aan te pak nie. Hy sê die afwesigheid van die munisipale bestuur dra ook by dat geen oplossings vir die probleem gevind word nie.

Hy verwys veral na die onlangse bewerings dat ʼn kontrak vir die verskaffing van chemikalieë vir die behandeling van die water in Desember verlede jaar verstryk het en in Junie verleng moes word, maar nooit gedoen is nie.

“Die munisipaliteit het geen plan om die waterkrisis die hoof te bied nie. Hulle dink hulle kan net die inwoners die skuld gee dat hulle te veel water gebruik. Hoe kan die inwoners in elk geval water spaar as daar nie eens water uit hul krane kom nie?” sê Bhanga.

Intussen het Bobani namens die munisipaliteit die inwoners om verskoning gevra vir die ongerief weens hierdie waterprobleme. “Die krisis is buite ons beheer. Ons kry nie genoeg reën nie en ons damme raak elke dag droër.”

Volgens die metro het die noordelike dele van die metro oor die naweek van 26 en 27 Augustus heersende wateronderbrekings begin ervaar en ʼn gesamentlike poging is aangewend om watervoorsiening in die gebiede weer in te stel.

Die wateronderbrekings het vererger nadat kragonderbrekings ʼn watersuiweringsaanleg by die Nooitgedacht-waterskema Maandag vir die tweede keer tot stilstand gedwing het. Onvoldoende water is van dié waterskema gepomp, wat die wateronderbrekings tot gevolg gehad het.

Bobani het Sondag gesê die watertoevoer sou Maandag herstel word wat egter onderbreek is weens die fout by die waterskema.

ʼn Inwoner wat anoniem wil bly, sê teen Dinsdag het hulle steeds nie water gehad nie. “Hulle het ons belowe die water sal teen Maandag reg wees, maar dit is steeds nie,” vertel die inwoner.

Volgens die inwoner sit mense al die afgelope sewe dae sonder water.

“Dit veroorsaak baie ongerief vir ons inwoners. Ons moet emmers vol water op en af dra om ons toilette te kan spoel, skottelgoed te was en ander huiswerk met water te verrig. Ek kook my swembadwater om dit te kan gebruik.”

Die inwoner vertel toe hy Maandag drinkwater by ʼn waterwinkel wou gaan koop het, was alles teen 12:00 reeds uitverkoop. “Ek het na die naaste kruidenierswarewinkel toe gegaan en die waterbottels was daar ook reeds uitverkoop.”

Die inwoner sê almal in die stad is keelvol vir die situasie en hulle voel daar word nie veel van die metro se kant gedoen om die probleem op te los nie. “Daar word nie eens watertenks met drinkbare water aan inwoners voorsien nie. Ons word aan ons eie genade oorgelaat,” vertel hy.

Bill Harrington, VF Plus-woordvoerder in die metro, sê die water wat in watertenkwaens aan inwoners voorsien word, is nie as drinkwater geskik nie en lyk eerder soos gryswater. Hy sê die metro het ook te min watertenkwaens om al die gebiede waarvan die krane reeds droog is, te help en daarom moet inwoners van een buurt na die ander ry, op soek na water.

Harrington sê hoewel die metro reeds vanaf 2018 aanmanings uitgestuur het na inwoners om water te bespaar, het hulle eers vanjaar daadwerklike pogings aangewend om lekplekke reg te maak. “Dit kan te laat wees aangesien die vier groot damme wat die metro van water voorsien op ʼn gesamentlike vlak van 18,84% staan,” sê Harrington.

“Die VF Plus doen ʼn beroep op die metro om nou dringend op te tree om gereed te wees vir die huidige en toekomstige waterkrisisse. Ons sal saam met die inwoners nie skroom om druk op die metro te plaas om die situasie te beredder nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VannieBaai ·

Maar daar word niks gesê oor die magdom watterlekke en gebarste pype wat ons elke dag aanmeld by ons wonderlike NMB Munisipaliteit en daar net niks aan gedoen word nie……..nou is dit die inwoners se skuld………..

Andre ·

Nee wat.Ek is jammer vir die goeie mense van die baai.Ek is seker julle het nie die klomp onbevoegdes ingestem nie.Maar so gaan dit op baie plekke.

saggiespraat ·

Ek weet nie so mooi of die stemme reg getel word nie hoor daar is te veel
mense hande in die tell betrokke. En daar is te veel om voor te stem so nou waar DA
dalk 3 stemme gekort het, het daar 3 mense vir iemand gaan stem wat nie a kat se kaans
staan want ons is te min. Hulle moet alles digital maak en so 4 partye he dat almal kan saam staan en nie hulle stem gaan weg gooi.

JohanR ·

Hulle kan daai motorfiets ambulanse met sidecars gebruik, op al die paaie wat se name verander is om water aan te ry ‘n Klein Jojo behoort in die sidecar in te pas? Gee die Oos-Kaap net vir 18 maande vir die DA en sien die verandering. Die mense van die Oos-Kaap verdien beter as die ANC!

Jaco ·

Iets maak nou nie sin nie. Toe Kaapstad se waterkrisis in 2020 op sy ergste was, het ‘n ANC-raadslid vanaf iewers in die binneland dan gesê die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar DA stem. So nou wonder ek maar net: Nelson Mandelabaai het ‘n ANC stadsraad so meeste kiesers daar is 100% binne die wil van God om te stem VIR korrupsie, swak of geen munisipale dienslewering ens ens. Watse sonde doen hulle dan dat daar nou ook droogte in ‘n ANC-beheerde munisipaliteit is?

Marius ·

Tipies anc , blameer ander mense vir hulle foute . Plaas hy eerder iets doen aan die probleem , maar nee sit in die stoel en doen niks nie . Voel baie jammer die mense in die Baai .

Strandloper ·

Oooo dog dit is Robeneiland…die saint het mos lank daar gekuier…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.