‘Nelson Mandelabaai-verkiesing was wettig’ – DA

Nqaba Bhanga is die nuwe burgemeester van die Nelson Mandelabaaimetro.

Die DA sê die brief van Xolile Nqatha, LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), aan die kantoor van die speaker rakende die Nelson Mandelabaai-raadsvergadering verlede week is onwaar en in kwade trou.

Die LUR het in die brief die verkiesing van die DA se Nqaba Bhanga as burgemeester van Nelson Mandelabaai as ʼn fout beskryf en nie in ooreenstemming met die wet nie.

“Dít is onwaar en Cogta het nie die mag om die verkiesing ongeldig te verklaar nie,” sê Andrew Whitfield, die DA in die Oos-Kaap se provinsiale voorsitter.

“Die verkiesing van die burgemeester en waarnemende speaker was administratief van aard en kan nie op grond van die sege van die LUR omvergewerp word nie.”

Nqatha is glo oortuig dat die verkiesingsproses gebrekkig was.

“Indien hy dit glo, moet hy die howe nader om ʼn geregtelike hersiening aan te vra. Daar bestaan by die DA geen twyfel dat die verkiesing wettig was nie.”

Mandla George, waarnemende stadsbestuurder, het gevra vir die verkiesing van ʼn waarnemende speaker, wat toe gelei het tot die benoeming van die Patriotic Alliance se raadslid, Marlon Daniels.

“Dit is net nog ʼn voorbeeld van hoe die ANC vuil spel sal inspan in ʼn desperate poging om in beheer te wees.”

Whitfield voer aan die speaker van die Nelson Mandelabaai-metroraad, Buyelwa Mafaya, het ook verlede week tydens ʼn vergadering in die raadsaal haar eie ontvoering as’t ware opgevoer.

Drie mans het haar Donderdag op ʼn gewelddadige wyse uit die raadsaal geboender.

“Dit was duidelik dat die mans haar eie lyfwagte was. Sy het voorgegee dat sy ontvoer word net om die vergadering kort te knip. Dit is blote oëverblindery deur die ANC.”

Die Nelson Mandelabaai-metro (Port Elizabeth, Uitenhage, Despatch en omgewing) is weer terug onder DA-bewind ná ʼn paar jaar van algehele chaos, erge wanbestuur en skrikwekkende korrupsie. Bhanga is Vrydagaand eenparig tot burgemeester verkies.

Dit lyk boonop asof Bhanga (wat ook die provinsiale DA-leier in die Oos-Kaap is) ʼn stabiele meerderheidsregering sal kan daarstel. Dit beteken die DA is in ʼn baie beter posisie in Nelson Mandelabaai as in Pretoria se Tshwane-metro, waar die nuwe DA-burgemeester, Randall Williams, ʼn minderheidsregering lei en dus gaan sukkel om byvoorbeeld die stadsbegroting aanvaar te kry.

Die Nelson Mandelabaai-metroraad het 120 lede. Hiervan het die DA 57, die ANC het 50, die EFF het ses, die UDM het twee, die ACDP het een, die African Independent Congress het een lid, Cope het een, die United Front of the Eastern Cape het een en die Patriotic Alliance het een setel.

Die DA kan in hierdie stadium formeel staatmaak op die ACDP, Cope en die Patriotic Alliance as koalisievennote, wat aan hom 60 van die 120 setels gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

ANC IS so deur mekaar as hulle baas CR!

Karina

Ek het gewag vir die ANC om te baklei teen die verkiesing van ‘n burgermeester van ‘n ander party. Pure suur druiwe. Net soos Trump kan die ANC dit nie hanteer om te verloor nie.