Nelspruit-plaasaanval: ‘Dis moeilik vir ons almal’

Chimene De Villiers en haar man op hul troudag by haar pa, Gerhard Kunneke en haar ma, Lynette. Foto: Facebook

Chimene De Villiers en haar man op hul troudag by haar pa, Gerhard Kunneke en haar ma, Lynette. Foto: Facebook

Gerhard Kunneke (69), die Nelspruit-boer wat verlede week tydens ʼn plaasaanval erg met ʼn graaf aangerand is, is steeds in die hoësorgeenheid van die Nelspruit Mediclinic.

Kunneke en sy vrou, Lynette (67), is Donderdagaand omstreeks 19:00 op hul plaas, Soetmelkvlei, aangeval. Gerhard is deur drie verdagtes oorval toe hy buite toe gestap het om sy kragopwekker af te skakel nadat hulle beurtkrag gehad het. Die egpaar is deur die verdagtes vasgemaak en met ʼn graaf aangerand.

Chimene de Villiers (23), die egpaar se dogter, het Maandag aan Maroela Media gesê die bloeding op haar pa se brein het verminder. “Ons is baie dankbaar, want hulle sal waarskynlik geen operasies hoef te doen nie. Hy kan moontlik binne ʼn dag of twee na ʼn algemene saal oorgeplaas word.”

Volgens De Villiers is haar pa wakker en kan hy met hulle gesels. “Hy kan min of meer onthou wat gebeur het, maar nie al die besonderhede nie. Ons vra hom maar nie uit daaroor nie, want ons wil hom nie ontstel nie,” het sy gesê. Sy het gesê haar ma is reeds Vrydag uit die hospitaal ontslaan en het slegs geringe beserings en ʼn paar kneusplekke opgedoen.

“Dis moeilik vir ons almal. Ons probeer net daar wees vir my pa en hoop dat hy so gou as moontlik uit die hospitaal kan kom. Ons werk maar deur dit as gesin,” het De Villiers gesê. Sy het bygevoeg sy is nog nie seker of haar ouers na die plaas sal terugkeer nie.

Kol. Leonard Hlati, woordvoerder van die polisie, het gesê die rowers het met vier vuurwapens, twee televisiestelle en selfone, met ʼn gesamentlike waarde van R50 000, gevlug.

Geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SNEL ·

Bly om te lees dit gaan beter. Baie sterkte vir julle deur hierdie tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.