Nelspruit-prokureur drie keer geskiet tydens hoewe-aanval

Gerrit Stander (38) en sy dogtertjie (Foto: Facebook)

ʼn Prokureur van ʼn firma in Mbombela (Nelspruit) is dood nadat hy en sy gesin Maandag vroegoggend op ʼn kleinhoewe in die Plaston-omgewing, digby Witrivier in Mpumalanga, aangeval is.

Gerrit Stander (38) is drie keer geskiet en het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Hy het alles in sy vermoë gedoen om sy vrou, Yolandi, en hul agtjarige dogtertjie te beskerm toe vermoedelik vyf mans hulle huis vanoggend omstreeks 02:00 betree het.

“Ons het vanoggend om 02:04 ʼn boodskap van Yolandi op ons familiegroep op WhatsApp ontvang waarin sy gevra het dat ons die polisie en nooddienste moet skakel,” vertel Gerrit se ouer broer, MC Stander (41).

“Ek het haar dadelik teruggebel en sy was in trane. Terwyl ek met haar gepraat het, het een van die aanvallers die foon uit haar hand gegryp.”

Volgens MC het die mans die oggend die kleinhoewe betree deur die elektriese heining se draad te knip. Hulle het die huis se veiligheidshek met ʼn stuk plank, waarvan die punt skerpgemaak is, oopgebuig, en só toegang tot die huis verkry.

MC sê daar word vermoed dat slegs drie van die mans in die huis ingegaan het terwyl twee vermoedelik buite staan en wag het.

Binne die huis het die mans die Standers oorval, waarna ʼn groot struweling tussen Gerrit en die mans ontstaan het.

“Gerrie het verbete terugbaklei. Hy het ʼn helse geveg opgesit om sy vrou en dogtertjie te beskerm. Hy het van die eetkamerstoele op die aanvallers stukkend geslaan.”

MC vertel hulle het sy broer erg aangerand. In die proses het hulle ook vyf skote afgevuur waarvan drie skote Gerrit in die long, lewer en arm getref het.

Tydens die skermutseling kon Yolandi daarin slaag om weg te kom.

“Die mans het daarna na hul dogtertjie se kamer toe gegaan en haar vir geld gevra. Sy het vir hulle gesê dat daar geen geld in die huis is nie, slegs ʼn R2-muntstuk wat op die vloer lê.”

MC vertel Yolandi het in die kamer ingehardloop en haar dogtertjie gegryp en vasgehou. Die mans het haar trouring van haar vinger af gegryp en met ander gesteelde goedere gevlug.

Yolandi en hul dogtertjie is nie fisiek beseer tydens die voorval nie.

Volgens MC het die mans ook ʼn skootrekenaar, tabletrekenaar, televisie en twee selfone gebuit.

Gerrit het later in die hospitaal aan sy skietwonde beswyk.

Verskeie wapens wat vermoedelik aan die verdagtes behoort het, is langs die pad opgetel.

“Ons het skroewedraaiers opgetel wat die verdagtes skerp gemaak en in messe verander het. Ons het ook op ʼn jagmes afgekom. Ons het alles aan die polisie oorhandig.”

Vir MC was sy broer ʼn held wat sy gesin tot die dood toe beskerm het.

“Hy was ook nog altyd ons familie se held. Hy het altyd alles bymekaar gehou. Hy was my beste vriend gewees en het my altyd in moeilike tye bygestaan.”

MC vertel omdat Gerrit ʼn prokureur was, was hy altyd die bemiddelaar en vredemaker in die familie. Stander was ʼn prokureur by Swanepoel & Vennote in Nelspruit.

Gerrit sou eerskomende Vrydag verjaar.

Kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, het bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisroof. Die polisie is op die spoor van die verdagtes en niemand is nog vasgetrek nie.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan kapt. John Mabunda by 082 449 0334 skakel of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alet

Hoeveel mense nog? Dit raak net al hoe erger. STOP die misdaad in SA.

RekmyBek

Sit ‘n prys op hul arrestasie!! Dan sien ons hoe vinnig raak hul gearresteer.

Dries

Laat ek liewer niks se nie, behalwe alle sterkte aan hierdie verpletterde gesinslede wat agterbly en nou moet aangaan met hulle lewens.

Misky

So kan dit nie aangaan nie!!!! Nee wraggies en dis tjoepstil van ons regering se kant en as hulle die slag iets sê, “veroordeel” hulle dit en gaan maar net voort. Dis nou tyd dat ons leiers, Afriforum en al die manne wat vir ons blankes moet opstaan, daadwerklik iets begin doen.

Persheks Adri

Nog sinnelose moord! Hoekom is hulle altyd meer as 1? Lafaards en bang sou ek sê

Mag God se hand oor julle wees in die moeilike tyd en julle troos.

Ek het nie woorde vir die moorde nie ons blankes is uitgelewer aan terroriste en die useless regering wat stil bly!

Ons is nêrens veilig nie dra julle wapens en wees paraat ten alle tye en en beskerm jouself en jou gesin!