Nelspruit-vrou gevonnis wat vriendin vermoor

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Ma van Mpumalanga wat haar verstandelik gestremde vriendin vermoor het, is Maandag in die Nelspruitse streekshof gevonnis.

Lungile Precious Malibe (23) van KaNyamazane naby Mbombela (Nelspruit) is verlede jaar in Maart in hegtenis geneem in verband met die moord op haar beste vriendin, Kedibone Mohlala (23). Sy het haar vriendin vyf keer met ʼn mes gesteek.

Malibe, ʼn ma van ʼn vier maande oue baba, het skuldig gepleit op die aanklag. Sy het gesê sy het uit selfverdediging opgetree nadat Mohlala haar met ʼn mes aangeval het. Die hof het gehoor Mohlala het ʼn sak klere en ʼn identiteitsdokument geëis wat sy aangevoer het sy het by Malibe se huis agtergelaat.

Cebo Vilakazi, vir Malibe, het ter versagting van vonnis gesê sy is ʼn eerste oortreder en sy is nog baie jonk en borsvoed haar baba.

Landdros Andre Geldenhuys het gesê maatskaplike werkers het in hul verslae direkte gevangenisstraf aanbeveel. “Een van haar familielede, ʼn tannie, het aangebied om na die kind om te sien,” het hy bygevoeg.

Volgens Geldenhuys kan Malibe net haarself verkwalik dat sy Mohlala met ʼn mes gesteek het. “Die hof aanvaar dat die oorledene ʼn verstandelike probleem gehad het,” het hy gesê. “Maar sy was nog baie jonk en het ʼn tweede kans verdien. Nadat sy die mes gebring het, het jy dit by haar gegryp en besluit om aan haar te doen wat sy aan jou wou doen.”

Geldenhuys sê dit is die manier waarop Malibe die mes gebruik het. “Jy was nie meer in gevaar nie, maar het haar steeds in die bors en skouer bly steek.”

Hy het haar tot 10 jaar tronkstraf gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.