Nene-aanstelling verwelkom; kommer oor kabinetgrootte

Nhlanhla Nene is weer aangestel as minister van finansies (Oktober 2015). Foto: Elmond Jiyane

Business Leadership South Africa (BLSA) het Dinsdag die heraanstelling van Nhlanhla Nene as minister van finansies verwelkom en gesê hy is ʼn bekende gesig wat beleggersvertroue in die land sal herstel.

Pres. Cyril Ramaphosa het laat Maandagaand ʼn kabinetskommeling aangekondig waartydens talle ministers na ander portefeuljes geskuif, nuwe gesigte in die kabinet verwelkom en sommige ministers in die pad gesteek is.

Een van die skuiwe wat baie reaksie uitgelok het, is dié van Malusi Gigaba, minister van finansies, wat geskuif is na minister van binnelandse sake. Nhlanhla Nene, wat van Mei 2014 tot Desember 2015 minister van finansies was tot hy deur destydse pres. Jacob Zuma afgedank is, is weer deur Ramaphosa as minister van finansies aangestel.

“Hierdie langverwagte kabinetskommeling is ʼn belangrike stap om vertroue in die ekonomie ʼn hupstoot te gee om sodoende groei te bewerkstellig en werkskepping te stimuleer om die uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid, veral onder jongmense, aan te pak,” het Bonang Mohale, uitvoerende hoof van BLSA, gesê.

Hy het gesê Nene se terugkeer as minister van finansies sal hom toelaat om die werk voort te sit waarmee hy besig was voordat hy onverwags en onverklaarbaar deur Zuma verwyder is.

“Ons doen nou ʼn beroep op die president om die hersiening van die grootte en samestelling van sy kabinet en nasionale departemente te bespoedig as bewys van sy toewyding aan noodsaaklike spaarmaatreëls.”

Intussen het die South African Municipal Workers Union (Samwu) ook Nene se terugkeer verwelkom en onmiddellik beklemtoon dat die nuwe minister van finansies se eerste fokuspunt die verhoogde BTW moet wees wat verlede week aangekondig is. “Eerste op die agenda vir min. Nene moet wees om te verseker dat die BTW-verhoging van 14% na 15% nie ingestel word nie,” het Simon Mathe, algemene sekretaris van Samwu, gesê.

“Die werkersklas het net doodeenvoudig nie ekstra geld nie en kan nie byhou met die voortdurende styging in lewenskoste nie. Ons sluit ook aan by die oproep vir die uitbreiding van nul-gegradeerde BTW-items. Hierdie uitbreiding moet die daaglikse behoeftes van Suid-Afrikaners insluit.”

Mathe het gesê Ramaphosa het ʼn sterk span nodig om hom te help om die vertroue in die Suid-Afrikaanse regering, wat “oor die afgelope paar jaar verdamp het”, te herstel.

Hy het ʼn beroep op Nene gedoen om saam met Zweli Mkhize, die nuwe minister van samewerkende regering en tradisionele sake, te werk om te verseker dat munisipaliteite geprioritiseer word. “Munisipaliteite moet ʼn meer regverdige, billike deel ontvang wat hulle in staat sal stel om gehaltedienste aan Suid-Afrikaners te bied. Regeringsbesteding moet belyn word met die behoeftes van Suid-Afrikaners wat meestal op plaaslike vlak is,” het Mathe bygevoeg.

Volgens Mathe erf Mkhize ʼn wanfunksionele departement en moet dringend ʼn span gereed kry om die uitdagings van munisipaliteite, waaronder bestuurskwessies, werkersalarisse wat nie betyds betaal word nie, korrupsie en wanadministrasie, aan te pak.

Mosebenzi Zwane is afgedank as minister van minerale hulpbronne.

Afdankings verwelkom

BLSA se Mohale het ook die verwydering van ministers wat onder verdenking geplaas is rakende bewerings van staatskaping en ander ernstige oortredings verwelkom. Dit sluit in Des van Rooyen (voorheen minister van samewerkende regering en tradisionele sake), Mosebenzi Zwane (voorheen minister van minerale hulpbronne), Lynne Brown (voorheen minister van openbare ondernemings), Faith Muthambi (voorheen minister van openbare administrasie), Nathi Nhleko (voorheen minister van openbare werke) en Bongani Bongo (voorheen minister van staatsveiligheid).

Mohale het gesê die groep neem wel kennis dat daar sommige ministers is wat bewerings van oortredings en ernstige wangedrag moet trotseer wat bloot na ander posisies in die regerende party geskuif is. “Ons glo die meerderheid van die aanstellings is geregverdig en sal die president help om die ambisieuse maar bereikbare planne wat hy in sy staatsrede aangekondig het te bereik.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ook Zwane, Mahlobo, Brown, Van Rooyen en Fikile Mbalula (voorheen minister van polisie) se afdankings verwelkom. Volgens Kriel was dit van sleutelbelang dat ministers wat met staatskaping verbind word, asook diegene wat onbekwaam was vir die pos wat hulle beklee het, uit die kabinet verwyder moes word om ʼn nuwe begin moontlik te maak.

Kriel het egter bygevoeg hy is ontevrede daarmee dat David Mabuza as adjunkpresident aangestel is en dat Bathabile Dlamini weer in die kabinet opgeneem is. (Dlamini is geskuif van minister van maatskaplike ontwikkeling na minister in die presidensie vir vroue.)

“AfriForum sal die nuwe kabinetslede met ʼn valkoog dophou om te verseker dat hulle verantwoordbaar gehou word en nie meedoen aan plundering van die staatskas soos wat hulle voorgangers gedoen het nie,” het Kriel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willie ·

Zwane was van onderwyser in Vrede, tot minister van minerale? Hoe het dit gebeur? Absolute platante onbevoegtheid?

SjN ·

Laat mens wonder hoekom die skommelings altyd in die aand gebeur. Wat soek sassa auntie nog daar.

Speedguard ·

Die SASSA tannie is die anc vroue liga se president, dus het sy ‘n vrypas, hulle sal nie aan haar raak nie !

Nettie ·

Los die 1% styging in BTW net daar waar dit is. Nes ander mense, wurg ek ook om alles te betaal wat betaal moet word, maar is ek ten gunste van ‘n BTW verhoging, omdat méér mense dan belasting sal betaal, as tans. Nou is daar mense wat links en regs belasting ontduik. Met BTW kán jy nie belasting ontduik nie, want die prys wat jy moet betaal, moet jy maar betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.