Nene nou direkteur by finansiële maatskappy

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, tydens sy mediumtermynbegroting in Oktober 2015. Foto: Elmond Jiyane

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, tydens sy mediumtermynbegroting in Oktober 2015. Foto: Elmond Jiyane

Nhlanhla Nene, die voormalige minister van finansies, het Maandag as ʼn nie-uitvoerende direkteur van ʼn bekende beleggingsbestuursmaatskappy begin.

City Press het berig ʼn woordvoerder van Allan Gray het bevestig Nene is vanoggend tydens ʼn raadsvergadering by die maatskappy aangestel. Nene was werkloos sedert pres. Jacob Zuma hom in Desember verlede jaar onverwags uit sy pos as minister van finansies afgedank het, slegs twee jaar nadat hy die stuur by die tesourie oorgeneem het.

Zuma het kort ná die afdanking gesê Nene is gekies is as die land se kandidaat vir ʼn pos by die Afrika-afdeling van die nuwe Brics-ontwikkelingsbank. Nene het egter later gesê hy dra geen kennis van die Brics-pos nie.

Nene is deur Des van Rooyen vervang, wat vier dae later ook in die pad gesteek is en deur die voormalige minister, Pravin Gordhan, vervang is. Die ommeswaai in die tesourie het die land na raming byna R500 miljard gekos en die rand het getuimel tot meer as R15 teen die Amerikaanse dollar.

Nene het ʼn paar dae ná sy afdanking ook uit die parlement bedank en vier maande “tuinmaakverlof” by sy plattelandse huis in Kranskop, KwaZulu-Natal, geneem.

Daar word beweer dat Nene afgedank is omdat hy nie geld wou voorsien vir sekere omstrede regeringsprojekte nie, aangesien die land dit volgens hom nie kan bekostig nie. Van hierdie beweerde projekte sluit in ʼn versoek deur die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) om die verhuringsooreenkoms met Airbus te hersien, ʼn nuwe presidensiële straler vir Zuma ter waarde van R4 miljard en ʼn ooreenkoms van R1 triljoen vir kernkrag.

Nene het verlede week in ʼn onderhoud met eNCA gesê dat hy by die privaat sektor sal aansluit, maar wou nie die naam van sy nuwe werkgewer bekendmaak nie. “Jy moet jou toekomstige werkgewer of toekomstige hoof toelaat om die aankondiging te maak. Ek is nog nie heeltemal seker oor hierdie indiensneming nie, maar my tuinmaakverlof sal wel binnekort tot ʼn einde kom,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lodewyk ·

Hoop nie hy maak so `n gemors met sy tuin as wat hy aan ons ekonomie gedoen het nie

Pieter ·

Lodewyk, waarvan praat jy?? Jy is blykbaar nie bewus van die geskiedenis van sy afdanking nie. Nene het hom uitstekend van sy taak gekwyt! Die gemors in ons ekonomie het gevolg nadat Zuma hom afgedank het – skynbaar omdat hy nie van Zuma en vriende se skewe projekte wou goedkeur nie en hom met ware integriteit van sy taak gekwyt het. Soos verwag is , het daar niks van Zuma se “rede/verskoning” oor sy afdanking, nl. benoeming by die BRICKS-bank, gekom nie – nog ‘n leuen deur Zuma!

Paul ·

Pieter, beleggers het nie so negatief op die afdanking van Nene gereageer nie, maar juis negatief gereageer op die aanstelling van David van Rooyen.
Nene was geensins ‘n uitstekende minister van finansies nie. Hy het basies niks gedoen (of reggekry) om ‘n ommekeer in die staat se finansies te bewerkstellig nie.

CHRISTA ·

Ek glo Nene sal baie suksesvol in sy nuwe pos wees. Só sal hy stof in die ANC se oë skop – deur te bewys hy het HULLE nie nodig om ‘n sukses van sy lewe te maak nie!!!

Lance ·

Hoe edel ….jy gaan Brics bank toe vir ons …..jok hy weer sonder om te bloos ….hy kannie bloos nie hehe

Piet Piper ·

Wat ‘n groot aanwins vir Allan Gray ! Doen jou bes Mnr. Nene.
Dis ‘n goue geleentheid om by so ‘n Formidabele en suksesvolle finansiele instelling soos Allan Gray jou kennis en ervaring te kan implimenteer en elke dag meer te leer. Wens jou alle sukses toe !!!
. Politieke woordjies kan nie vir ‘n brood betaal nie, ……..” money buys the whisky”. You gonn’a ride into the future with a winning Allan Gray Stallion .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.