Nene nou voorsitter van nuwe beleggingsfirma

Nhlanhla Nene, die voormalige minister van finansies, lewer op 25 Februarie 2015 sy begrotingsrede in Kaastad Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, is Dinsdag as voorsitter van die toesighoudende raad vir die nuwe Kaapstadse beleggingsfirma, Arise, aangestel.

Nene is in Desember 2015 deur pres. Jacob Zuma afgedank. Hy is glo ’n posisie by die BRICS-bank belowe, maar dit het nooit realiseer nie. Hy het gevolglik as ANC-LP bedank en het sedertdien verskeie poste in die privaatsektor beklee.

Nene is tans ʼn nie-uitvoerende direkteur op die raad van Allan Gray en ook ʼn adviseur vir die swart beleggingsgroep Thebe Investment Corporation. Hy sal van 1 Junie 2017 sy pos as voorsitter van Arise beklee.

Nene het laat hoor hy is verheug oor die verwikkeling en om deel te wees van dié onderneming se reis.

“Met die ondersteuning van sy aandeelhouers, Norfund, Rabobank en FMO, is Arise in die unieke posisie om die finansiële dienstesektor in Afrika te bevorder en ek sien uit daarna om deel te wees van die sukses,” het Nene laat hoor.

Dié firma is in Februarie gestig en het reeds gesamentlike bates van $637 miljoen. Die firma het in sy eerste maand van sakebedrywighede ’n 27,7%-aandeel in die CAL-bank in Ghana beklink.

Deepak Malik, Arise se hoof uitvoerende beampte, het gesê Arise se mandaat is om langtermyn beleggings in plaaslike banke in Afrika te maak om bankdienste meer toeganklik te maak en die finansiële sektor uit te brei.

Malik het in ʼn verklaring gesê Arise is opgewonde om iemand van Nene se kaliber aan boord te hê en hulle is dankbaar dat hy die aanbod aanvaar het.

“Ons sien uit na Nene se strategiese bydrae tot die raad. Ons vertrou die pos sal hom toelaat om die bydrae wat ons glo hy kan lewer, te maak en ook sy persoonlike aspirasies na te streef,” het Malik gesê.

Volgens Malik is die hoofdoel van Arise om finansiële stelsels te versterk en te ontwikkel om sodoende armoede te verminder en tot ekonomiese groei by te dra.

Die firma is deur die Noorweegse firma Norfund en die Nederlandse banke Rabobank en FMO gestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Baie geluk Mnr Nene. Mnr Gordhan moet ook privaatsektor toe gaan en bedank uit die gemors ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.