Nene: ‘Zuma het druk geplaas oor kernkragooreenkoms’

Nhlanhla Nene. Foto: Itumeleng English/ANA

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het voor die Zondo-kommissie na staatskaping getuig daar is druk op die tesourie geplaas om ʼn multimiljardrand-kernkragooreenkoms met Rusland goed te keur.

Volgens Nene is hy deur oudpres. Jacob Zuma berispe omdat hy nie gedoen het wat van hom gevra is nie. Nene het getuig oor ʼn vergadering by die 2015-Brics-beraad in Rusland waar Tina Joemat-Pettersson, toe die minister van energie, aangekondig het dat ʼn raamwerk tussen Suid-Afrika en Rusland onderteken is wat die grondslag gelê het vir die verkryging van kernkrag.

Volgens Nene is dit gedoen ondanks die tesourie se besware nadat ʼn ontleding van die lewensvatbaarheidstudie daaroor gedoen is. Nene, Zuma en Joemat-Pettersson het apart vergader tydens die Brics-beraad en volgens Nene was hy van plan om Zuma in te lig oor die beraad en ʼn vergadering met Rusland se pres. Wladimir Poetin.

“Mnr. Zuma het voortgegaan om die kwessie van kernkragverkryging in Suid-Afrika te bespreek. In wese wou mnr. Zuma weet watter vordering ek en die minister van energie gemaak het rakende die kernkragooreenkoms aangesien die kabinet ons opdrag gegee het om onder meer ʼn memorandum op te stel oor die finansiële implikasies en finansieringsmodel van die kernkragprogram. Ek het aan mnr. Zuma aangedui dat ʼn gebrek aan besonderhede rakende die voorgestelde finansiering van die projek dit moeilik gemaak het om vordering met die memorandum te maak.”

Volgens Nene was hy verras dat beamptes van die tesourie nie in die vergadering toegelaat is nie aangesien die direkteur-generaal van die departement van internasionale betrekkinge self in die vergadering was.

“Tydens die vergadering het mnr. Zuma my gekritiseer omdat ek nog nie die finansiële aspekte van die voorgestelde kernkragooreenkoms met Rusland gefinaliseer het nie. Hy was ongelukkig dat ek nog nie gedoen het wat ek veronderstel was om te doen nie sodat hy iets kon hê om voor te lê wanneer hy met pres. Poetin vergader het.”

Joemat-Pettersson het glo ʼn brief opgestel wat deur Nene onderteken moes word en aan die Russiese owerhede geadresseer was. Volgens Nene was die brief ʼn waarborg aan die Russe rakende kernkragverkryging indien die Russe sou instem om dit te finansier. Volgens Nene het hy geweier om die brief te teken.

Nene het getuig dat hy vir Joemat-Pettersson gesê het dat sy die brief kan onderteken, maar dat hy nie gaan nie. Sy het glo aan hom gesê dit moet ʼn gesamentlike besluit tussen die ministers van energie en finansies wees. “Sy was nie tevrede met my antwoord nie, maar het ingestem om die brief te wysig.”

Joemat-Pettersson het Nene glo ure later met ʼn gewysigde brief genader, maar hy het glo weer geweier om dit te onderteken.

Nene het getuig sy weiering om die brief te onderteken is gesien in die lig daarvan dat hy in die pad staan van die kernkragooreenkoms en dat hy gevolglik vyandigheid van sy kabinetskollegas en Zuma ervaar het. Volgens Nene is hy ook deur Zuma en ander kollegas van diensweiering beskuldig.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou by Nene weet of Zuma bewus was van die wetlike en finansiële vereistes rakende die kernkragverkryging.

“Ek dink nie die president het die werklike finansiële koste besef nie omdat niks nog aangebied is nie, maar ek het gevoel dat die kwessie rakende finansiële implikasies net sekondêr vir hom was. Ek sal nie weet of hy bewus was van die wetlike vereistes nie,” het Nene gesê.

Nene is gevolglik in Desember 2015 afgedank en met Des van Rooyen vervang.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rooikop ·

Wanneer gaan Zuma vervolg word vir al sy kaskenades ??????

Bruno Samartino ·

Nooit nie! Dit weet ons seker al teen die tyd. Al die ondersoeke is maar net ‘n rookskerm en nog ‘n geleentheid vir mense om miljoene te maak daaruit. Al word bewyse gevind teen hom en die Guptas en die hele ANC en al word hulle aangekla(wat ‘n droom is), sal dit vir geslagte teengestaan word in die howe. Kom ons beweeg maar net aan. Dis ongelukkig hoe dit is en gaan wees.

AW ·

“Daily we witness the spectacle of people in high office escaping judicial scrutiny and retribution because they are able to manipulate the levers of office to deflect any scrutiny of their action.

In South Africa, the ruling party under Jacob Zuma has routinely manipulated the National Prosecuting Authority to deflect the criminal trail of Zuma for fraud.

The ruling party has saturated the bench with minions and political cronies often of mediocre talent in order to achieve its political will.

(Page 170 : Justice Denied – The Role of Forensic Science in the Miscarriage of Justice by David Klatzow – 2014)

Justice ·

Zuma was `n vryheidsvegter en het dus daardeur lewenslange ANC kwytskeldingstatus verkry.

Johan ·

Zuma sal nie nie finansiele implikasies ooit besef het of besef nie. Hoeveel kos dit? 15 thousand, no…. 15 million 230 ……no…. 23 thousand no……. 230 000 ….no…. let me start again…… 15 …… sorry what did you say, million or billion? LOL

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.