Nersa-appèl kan lei tot prysskok

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

AfriSake het Saterdag gesê hy is van mening dat Eskom-verbruikers verdere kragtariefverhogings van 22% in die gesig kan staar.

Dít volg nadat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) die afgelope week aangekondig het dat hy appèl wil aanteken teen die tersydestelling van die verhoging van 9,4% wat hy op 1 Maart 2016 aan Eskom toegestaan het.

Dié verhoging het op 1 April 2016 in werking getree vir Eskom se direkte verbruikers en is vanaf 1 Julie 2016 deur munisipaliteite afgewentel op hul verbruikers. As Nersa nie die verhoging toegestaan het nie, sou Eskom se tariewe gemiddeld net met 3,51% gestyg het.

Volgens Stefan Pieterse, woordvoerder vir AfriSake, is daar egter baie meer op die spel met die Nersa-appèl as net dié 9,4%-verhoging. “As die appèl slaag, kan verbruikers blootgestel word aan verdere Eskom-verhogings van 22%,” het hy gesê.

Dít volg nadat Eskom nog twee aansoeke ingedien het vir tussentydse tariefverhogings op grond van hoër as verwagte uitgawes en laer as verwagte verkope in 2014-’15 en 2015-’16.

Die beslissing waarteen Nersa wil appelleer, is op 16 Augustus 2016 in die Noord-Gautengse hooggeregshof gelewer. Regter Cynthia Pretorius het ’n aansoek van ’n groep intensiewe kragverbruikers van die Port Elizabeth-omgewing asook die Nelson Mandelabaai-sakekamer toegestaan. Die aansoekers het onder meer aangevoer dat Eskom en Nersa afgewyk het van die voorgeskrewe metodologie vir tussentydse verhogings en die hof het die argument aanvaar.

Van die gebreke was dat Eskom nagelaat het om aan die begin van die 2013-’14-boekjaar die sogenaamde Regulatoriese Verrekeningsrekening (Regulatory Clearing Account) te open en kwartaalliks aan Nersa verslag te lewer oor afwykings van sy begrote inkomste en uitgawes met projeksies vir die res van die boekjaar.

Dié rekening is ’n meganisme in die metodologie waarvolgens Eskom se tariewe vasgestel word, wat voorsiening maak vir tussentydse aanpassings as Eskom se inkomste of uitgawes afwyk van dit waarvoor voorsiening gemaak is in die aanvanklike multijaar-tariefvasstelling. Nersa is veronderstel om die kwartaalverslae na te gaan en die resultate aan Eskom se verbruikers bekend te maak sodat hulle betyds gewaarsku kan word oor tariefverhogings wat kan volg. Dit het egter nooit gebeur nie.

Volgens Pieterse is die tariefaansoek ook hopeloos te laat ingedien – ’n volle 27 maande ná Eskom sy geouditeerde finansiële state ontvang het en dus al die nodige inligting gehad het om die aansoek te kon indien.

Hy het gesê dat maatskappye soos Eskom veronderstel is om van voor te lei, maar presies die teenoorgestelde is sigbaar. “Dit is ondenkbaar dat ’n privaat maatskappy só sou optree en nie gepenaliseer word nie.”

AfriSake het hierdie gebreke aan Nersa uitgewys tydens die openbare verhore voor Nersa die verhoging toegestaan het.

Die tweede deel van regter Pretorius se bevel gebied dat alle toekomstige tussentydse tariefverhogings ook aan die voorgeskrewe metodologie moet voldoen. Dit is hier waar Eskom se turf behoorlik kan sit.

Thembani Bukula, Nersa se reguleerderlid vir elektrisiteit, het bevestig dat Eskom nie in 2014-’15 of 2015-’16 kwartaalverslae ingedien het nie. Die 2014-’15-aansoek is op 13 Mei vanjaar by Nersa ingedien, sowat tien maande ná ontvangs van die geouditeerde finansiële state, en dus laat. Die 2015-’16-aansoek is op 15 Julie 2016 ingedien, en was dus nie laat nie.

Bukula erken dat albei aansoeke nie heeltemal voldoen aan die voorgeskrewe metodologie nie. “As die beslissing van die hooggeregshof dus staan, sal Nersa die twee aansoeke moet verwerp.”

Dit sal beteken dat Eskom potensieel onderskeidelik R19,1 miljard en R23,6 miljard ekstra inkomste ontbeer. Vir die wankelrige kragverskaffer sal dit ’n gevoelige slag wees. Dit is bykans dubbel die R23 miljard kontantinspuiting wat Eskom onlangs by die staat gekry het.

As die appèl egter slaag, kan die verbruiker hom regmaak om daardie bedrae op te dok. As die twee verhogings ten volle toegestaan word en saam op 1 April volgende jaar in werking tree, sal dit neerkom op ’n bykomende tariefverhoging van 22%!

“Die eerste stap is nou vir Nersa om aansoek te doen om verlof tot appèl. As die regter meen daar is ’n redelike kans dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking kan kom, behoort die verlof toegestaan te word,” het Pieterse bygevoeg.

’n Verdere kinkel in die kabel is dat Nersa tans veranderinge aanbring aan dié metodologie. Die reguleerder wil spesifiek die gedeelte wat handel oor die bekendmaking van Eskom se kwartaalverslae aan die publiek om vroegtydige prysseine te stuur, skrap.

“Daar is ’n vertrouensbreuk tussen Eskom en die algemene publiek omdat die publiek voel hulle word uitgebuit deur ’n maatskappy wat buitensporige kragtariewe eis, ’n monopolie het, en self nie by die reëls hou nie. Dis hoog tyd dat die elektrisiteitsbedryf geprivatiseer word sodat gesonde mededinging tot gesonde pryse en betroubare diens kan lei,” het Pieterse afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Grap ·

As almal net betaal vir wat hulle gebruik maar die realiteit is ‘n klein persentasie betalers dra die meerderheid nie betalers en die onbevoegdheid van die Eskom raad help ook nie …….privatiseer is die enigste oplossing

Johan ·

Die groot probleem is dat al die sogenaamde staatsinstellings wat geprivatiseer word nog steeds in staatsbeheer is en bakhand staan vir geld van die straat. Kyk na salarisse en bonusse. Ons as pensioenarisse kry nie elke jaar massiewe verhogings nie maar ons geld word minder. Dis moeilik om kop no water te hou in hierdie land Waar Ons Ons beste gegee het en belasting betaal het vir jare lank. Niemand dink daaraan nie. Ons land en regering het selfsugtig geword. Net God kan Ons help.

Cherokee ·

Ek hoop diegene wat DA stem is eerlik genoeg om nie te kla juis omdat hulle kry waarvoor hulle stem, nie. Julle stem daarvoor dat onbevoegdes die kragreus beheer terwyl bevoegdes oorsee moet gaan werk soek, so verdra dit want julle ondersteun die ANC en die EFF daarmee.

Annemarie ·

Top bestuur kry bonusse en die verbruiker moet net opdok! Hul slaan ons harder per kw verbruik want hul kry te min geld! Intussen probeer baie mense so min as moontlik krag gebruik om bietjie te spaar en kop bo water te hou! Ons bly op plaas en die levy’s maak 3/4 van ons rekening uit! Hoe de hel werk hul dit uit??? Ons het sonpaneel op die dak, gasstoof EN koolstoof, lae energie gloeilampe, 2 yskaste in 2 huishoudings! Wat meer kan ons doen? Jammer diesel is so duur! Ons kragopwekker is klaar gebou!

vermeende ·

Annemarie ek roei saam julle daai boodjie, raak van Eskom ontslae dis wel duur maar die moeite werd.
In Midrand is ‘n besagheid wat 12v huishoudelike ys en vrieskaste verkoop en op die net kan julle n 3fase inverter bestel, as die son skyn dan loop jou 3fase pompe.

KarooKlong ·

Almal wat verkeerd gestem het moet nou asseblief ophou kerm en begin positief raak. Die runaways ook.

Wat-ek-lees ·

Eskom is ‘n besigheid MAAR ook die enigste wat ek van weet wat jou waarsku om spaarsamig met sy produk te werk. Nou hoe de duiwel verkoop jy iets om ‘n wins te maak maar plaas ‘n beperking daarop? DAN MAAK JY ‘N ANDER PLAN EN BELAS JOU PRODUK DEUR DIT DUURDER TE VERKOOP !!!
Ek stem saam dat daar moet kompetisie wees om hierdie uitbuitery stop te sit.

John ·

Gewone mense gebruik reeds die minimum krag en skakel gysers slegs aan vir noodsaaklik gebruik. Ander apparate en muurproppe word ook gemonitor. Teen R2 per eenheid plus belasting raak elektrisiteit onbekostigbaar. Gas kos omtrent dieselfde prys. Moet mense terugdraai na kool- en antrasietstowe? Eskom is ‘n verteerde vuur wat ons uiteindelik in sak en as gaan laat eindig. Die drome vir volmaakte atoomkragstasies sal in nagmerries ontaard. Terug na kerse, hout, stronke, miskoeke en steenkool … dis skynbaar weer eens ons voorland.

Lance ·

Beweeg net weg van eskom na sonkrag soos so baie mense reeds doen ….oor n paar jaar van nou koop net nog nkadla en groot besigheid van die oeptas nog krag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.