Nersa bevestig: Eskom verbrand diesel teen ‘kommerwekkende koers’

(Argieffoto: GCIS)

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het bevestig dat Eskom vinnig besig is om sy dieselbegroting vir die 2024/2025- finansiële jaar “teen ʼn kommerwekkende koers” uit te put. Dit kom ná herhaaldelike ontkennings deur die Eskom-raadsvoorsitter Mteto Nyati en die minister van elektrisiteit Kgosientsho Ramokgopa dat Eskom diesel verbrand om die ligte aan te hou.

Volgens Nersa het Eskom binne een maand reeds meer as die helfte van sy kwartaallikse begroting vir diesel vir die eerste kwartaal van die finansiële jaar spandeer. As die reguleerder verantwoordelik vir die toewysing van Eskom se dieselbegroting vir oopsiklus-gasturbines (OCGT), het Nersa onthul dat Eskom reeds 168,5 GWh van die elektrisiteit verbruik het wat die kragvoorsiener toegelaat word om krag met diesel op te wek vir die eerste kwartaal vanaf April tot Junie 2024.

Volgens die Mail and Guardian het persone in Eskom gesê dat Eskom se dieselspandering byna R7 miljard beloop. Dit word verbind met politieke druk oor die komende verkiesing.

Mimmy Gondwe, die DA se skaduminister van openbare ondernemings, sê die DA sal ʼn amptelike klag by die openbare beskermer indien teen die Ramaphosa-administrasie gebaseer op prima facie-bewyse dat hy sy mag oortree het en direk ingemeng het met Eskom se bedrywighede vir politieke voordeel.

“Ons sal die saak maak dat hulle doelbewus vals inligting gebruik het om lede van die publiek te mislei oor Eskom se dieselverbruik, omdat hulle hul politieke plannetjies wil verbloem.”

Ander geskou, kom pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet se optrede neer op politieke inmenging, meen Gondwe. “Hulle plaas druk op Eskom om meer diesel te verbrand en die ligte ten alle koste aan te hou om die publiek te mislei dat Eskom beurtkrag oorkom het.”

Nersa het bevestig dat dieselverbruik vir OCGT’s “sonder enige twyfel” opgeskerp is tussen April en Junie 2024.

“Teen die koers wat diesel verbrand word om die illusie te behou van deurlopende kragtoevoer, is die kans groot dat beurtkrag byna dadelik sal hervat wanneer die stembusse op 29 Mei sluit,” voeg Gondwe by. “Die manipulasie van beurtkrag om die verkiesing se uitslag te manipuleer is ʼn skandelike skending van die wet. Die ANC-regering en Eskom se uitvoerende span met wie hulle saamwerk, moet aanspreeklik gehou word. Suid-Afrikaners moet nie mislei word deur hierdie skaamtelose magsmisbruik nie. Hulle moet beslissend optree en die manipuleerders op 29 Mei uitstem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.