Nersa het volle vertroue in sy Eskom-kragtariewe

Argieffoto: GCIS

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het gesê hy is vol vertroue dat die bepaling van die veeljarige prysvasstelling vir Eskom in ooreenstemming is met die wetlike en regulatoriese vereistes.

Dit kom nadat Eskom Vrydag aangekondig het dat hy ʼn hofaansoek gaan bring rakende Nersa se jongste besluit oor kragtariewe.

Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof, het gesê daar is op die regsaksie besluit nadat Nersa se redes vir sy besluit deeglik geanaliseer is. “Gevolglik het ons ʼn aansoek gebring vir dringende tussentydse verligting, wat nodig is om ʼn finansiële ramp vir Eskom te voorkom.”

Nersa het in Maart vanjaar sy veeljarige prysvasstelling bekend gemaak en vir Eskom toelaatbare inkomste van R206 miljard vir die boekjaar 2019/20 goedgekeur, R221 miljard vir die boekjaar 2020/21 en R233 miljard vir die boekjaar 2021/22. Die goedgekeurde toelaatbare inkomste sal lei tot kragtariefverhogings van onderskeidelik 9,41%, 8,10% en 5,22%.

Volgens Eskom het die prysvasstelling hom egter met ʼn tekort van R102 miljard gelaat, gegewe waarvoor hy aansoek gedoen het.

Die belangrikste rede vir die tekort is weens Nersa se besluit om die beoogde regeringsteun van R23 miljard per jaar te verreken teen die opbrengs op bates. “Dit versleg Eskom se finansiële stabiliteit.”

Calib Cassim, Eskom se finansiële hoof. Foto: Armand Hough/ANA

Volgens Cassim het hul hofaansoek ook ten doel om ʼn bevel te kry om op ʼn gefaseerde wyse aan die tekort aandag te gee. “Bykomend wil ons hê die hof moet Nersa se veeljarige prysvasstelling-besluit hersien en ter syde stel en die besluit aan Nersa terugstuur vir heroorweging in lig van die hof se beslissing.”

Die kragvoorsiener is van mening dat Nersa nie die reëls en beginsels van die Wet op Elektrisiteitsregulering sowel as die veeljarige prysvasstelling-metodologie behoorlik oorweeg het om tot sy besluit te kom nie.

“Die veeljarige prysvasstelling-metodologie maak nie voorsiening vir ekwiteitsbelegging deur die regering om as ʼn opbrengs op bates ingesluit te word nie,” voer Cassim aan en voeg by dat Nersa se aftrekking van die finansiële ondersteuning deur die aandeelhouer om dié rede die hele doel van regeringsondersteuning verydel.

Charles Hlebela, woordvoerder van Nersa, het gesê indien Eskom nie tevrede is met die beslissing nie, die kragvoorsiener hom kan beroep op die Nasionale Energiereguleerderwet wat enige persoon magtig om die hooggeregshof te nader vir die geregtelike hersiening van enige beslissing van die Energiereguleerder in ooreenstemming met die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid.

“Ons is egter vol vertroue dat die vasstelling in ooreenstemming is met die wetlike en regulatoriese vereistes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos

ESKOM gaan doen wat tesorie gesê het julle moet doen. Daar is R40 mij uitstaande skuld in Soweto en munisipaliteite. Vorder dit in.

Kriek

My direkte Eskom rekening is hierdie maand n bietjie meer as R1800, waarvan my eintlike kragverbruik maar R132 is. Die res is heffings net omdat ek n paal het. Dis blatante roof en hulle wil dit nog opstoot.

John

… hoeveel Oosterse finanskenners het Eskom in sy boonste linkerhandse laai. Daar waar die grootbase die towerstaffies hou. Binnekort is daar werk vir nog van dieselfde wanneer daar drie eenhede gaan wees wat bakhand sal staan. Watter ellende lè en wag op ons pad sonder straatligte.

Dowwe Lampie

Ek weet nie van julle nie, maar hierdie ou man se toekoms is duister.

Eben

Ons sal nou verplig word om sonder Eskom krag oor die weg te kom. Die tariewe is belaglik en dit sal inflasie op stoot. ESKOM moet so gou as moontlik kompitisie kry. Dit is totaal onaanvaarbaar dat ons so beroof moet word.