Nersa sê ja vir kragskepe

Karpowership se skeepswerf in Yalova, Turkye. (Foto: Ozan KOSE/AFP)

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het kragopwekkingslisensies aan Karpowership toegestaan om krag by drie plekke in Suid-Afrika op te wek.

Karpowership, wat ʼn vloot kragskepe besit en bedryf, het lisensies bekom om by Saldanha, Coega en Richardsbaai krag op te wek. Die maatskappy is een van die voorkeurbieërs vir die noodverkryging van 2 000 MW krag ingevolge die risiko-mitigasie- onafhanklike kragverkrygingsprogram (RMIPPPP).

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het in Junie, na behoorlike oorweging van alle relevante inligting wat as deel van die proses vir die beoordeling van die omgewingsimpak vir die drie betrokke aansoeke voorgelê is, die aansoeke vir omgewingsgoedkeuring afgekeur.

Verskeie organisasies en partye het gekla oor die moontlike besoedeling wat die kragskepe, wat aardgas gebruik om elektrisiteit op te wek, tot gevolg kan hê en die impak daarvan op seelewe en die omgewing.

Karpowership het egter teen die departement se beslissing geappelleer en daar word nog op die uitslag hiervan gewag.

Indien Karpowership suksesvol is, sal sy skepe by die hawens in Saldanha, Coega en Richardsbaai aan die land se kragnetwerk gekoppel word.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het Karpowership in Maart vanjaar as drie van die agt voorkeurbieërs aangekondig vir die RMIPPPP. Die betrokke bieërs beoog om deur middel van sonkrag, windkrag, aardgas en batterye elektrisiteit op te wek.

Mantashe het gesê die pryse vir die voorgestelde oplossings wissel van R1 468 per megawattuur (MWh) tot R1 885 per MWh.

Suid-Afrikaanse entiteite se deelname aan hierdie projekte is 51%, met swart eienaarskap op 41%. Ongeveer 3 800 werksgeleenthede sal tydens die konstruksietydperk van 18 maande geskep word en nog 13 500 gedurende die 20-jaar-aankoopooreenkoms.

Die projekte moes teen einde Julie op die laatste van stapel gestuur word, maar dit is later tot einde September uitgestel. Die verwagting is dat die projekte teen Augustus 2022 elektrisiteit aan die kragnetwerk sal verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Hoeveel biljoene gaan nou weer verdwyn ?

Diline

Hier gaan ons alweer! – “Suid-Afrikaanse entiteite se deelname aan hierdie projekte is 51%, met swart eienaarskap op 41%” Sal eerder niks verder byvoeg nie

Kokerboom

Hier is alweer ‘n slang in die gras. Stel solank ‘n kommissie van ondersoek aan!! RIMPPPP..liewe genade klink soos BBBBEEEEE! Deeglike ondersoek deur Dept met watter ekspertise?? en vir wie se sak???As wind en sonkrag projekte betyds toegelaat is was die monsters NIE nodig! ALLES word met voorbedagte selfverryking gedoen!!!

Skuilnaam

Suig weer lekker aan die tenderspeen…

Hennie

Dis ‘n verdomde skande dat hierdie malligheid voortgaan! Gwede se bankrekening is seker ‘n hele paar miljoen dikker!! En so word SA se bene oopgerek vir ‘n 20 jaar verkragting! Vervloek is die ANC!