Nersa sê oor nuwe kragtariewe

Argieffoto: GCIS

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het Vrydag ʼn elektrisiteitstariefverhoging van 5,23% aan Eskom toegestaan, veel laer as die kragvoorsiener se aansoek van 19,9%.

Eskom, wat in ʼn finansiële verknorsing verkeer wees bestuursprobleme by die maatskappy, het gesê hy het ʼn aansienlike verhoging in elektrisiteitspryse nodig om sy boeke te laat klop. Die kragvoorsiener het Nersa versoek om kragtariewe vanaf 1 April 2018 met 19,9% te verhoog vir direkte verbruikers, en vanaf 1 Julie met 27,5% vir munisipale kliënte.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Nersa se besluit om die elektrisiteitstarief vir die 2018/2019 finansiële jaar met slegs 5,23% te verhoog verwelkom.

“AfriForum het hierdie tariefverhoging uit die staanspoor teengestaan deur skriftelike kommentaar aan Nersa te lewer,” het Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, gesê. “Ons het ook aan die openbare deelnameproses deelgeneem deur ’n voorlegging te lewer wat aanvoer dat die koste van Eskom se beweerde korrupte aktiwiteite en wanadministrasie by die berekening van die verhoging vir die komende jaar se elektrisiteitstarief uitgesluit moet word.”

Mostert het gesê tydens dié deelnameproses het sakelui, myne en ander organisasies hul perspektief kom stel oor waarom die verhoging nie moet plaasvind nie. Die hoeveelheid besware wat ingedien is, was só oorweldigend dat die energiereguleerder die aankondiging van sy besluit twee keer moes uitstel.

“Gemeenskappe kan nie langer vir Eskom se wanbestuur betaal nie en dit is tyd dat húlle daarvoor verantwoordelik gehou word. Gemeenskappe kan help om oplossings vir die land se probleme te bied deur aan openbare prosesse deel te neem en by burgerregte-organisasies aan te sluit wat sulke onregverdigheid teenstaan. Ons sal verder die redes vir Nersa se besluit in besonder bestudeer,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

en 2 maande later dan styg Eskom se topbestuur se reeds reusagtige salarisse met 20%

Jacques venter ·

R30 miljoen “pensioen” vir 18 maande diens. Dan wil hulle oor 20 persent verhooging in tariewe hê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.