Nestlé ontken produkte in arm lande is soeter

Cerelac en Nido, vervaardig deur Nestlé. (Argieffoto)

Die Switserse voedselreus Nestlé het bewerings van ʼn nieregeringsorganisasie ontken dat hy suiker byvoeg by produkte in ontwikkelende lande, ook Suid-Afrika, wat hy suikervry in Europese markte aanbied.

“Daar is geen dubbele standaard nie,” lui ʼn verklaring van die maatskappy.

“Ons handhaaf oral dieselfde voeding-, gesondheid- en welstandbeginsels.”

Die Switserse organisasie Public Eye het verlede week ʼn verslag bekend gemaak wat lui dat “twee van die topverkoper babakoshandelsmerke wat Nestlé in lae- en middelinkomste-lande bemark, hoë vlakke van toegevoegde suiker bevat, terwyl sulke produkte suikervry in sy tuisland, Switserland, is”.

Nestlé besit verskeie handelsmerke vir babaformulemelk, en sê dié formule vir babas jonger as 12 maande bevat geen bykomende suiker nie. Die maatskappy sê hy is ook gaandeweg besig om bygevoegde suiker wêreldwyd in produkte vir kinders ouer as ʼn jaar uit te faseer.

“Ons reeks pap vir babas en jong kinders is beskikbaar met en sonder ekstra suiker in verskeie wêrelddele, in Europa asook in markte in Asië, Latyns-Amerika en Noord-Amerika,” sê die maatskappy.

“Ons gaan voort om suikervrye opsies bekend te stel en ons plan is om dit oral beskikbaar te hê waar ons baba- en voedingsprodukte aanbied.”

Public Eye het in sy verslag die Cerelac-handelsmerk se meelgebaseerde pap vir ses maande oue babas genoem en aangevoer dit bevat 5 gram meer suiker per porsie in Ethiopië en 6 gram in Thailand terwyl dit geen suiker in Duitsland of Engeland bevat nie.

Die verslag is bekend gemaak op die dag voor Nestlé se algemene jaarvergadering en het ekstra druk geplaas op die maatskappy wat reeds onder druk is van groepe wat wil stem oor die gesondheidsuitwerking van Nestlé se produkte.

Die mosie vir dié stem het misluk, maar dit het grootbase gedwing om by die jaarvergadering aandag aan die kwessie te gee.

Public Eye se verslag kom ook te midde van waarskuwings deur Franse reguleerders oor die besmetting van mineraalwater in Frankryk onder die Nestlé-handelsmerk.

Die spul negatiewe nuus “skep kommer by aandeelhouers” het Jean-Philippe Bertschy, ʼn ontleder by Vontobel, in ʼn kommentaarstuk gewaarsku.

Patrik Schwendimann, ʼn ontleder in Zürich, het ook gesê “beleggersvertroue jeens Nestlé was in die afgelope 25 jaar nog nooit so laag nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Let op wat daar gesê word: “Ons reeks pap vir babas en jong kinders is beskikbaar met en sonder ekstra suiker in verskeie wêrelddele, in Europa asook in markte in Asië, Latyns-Amerika en Noord-Amerika,”. Eers- en laasgenoemde SLUIT AFRIKA-LANDE UIT!!! Hulle lieg dus oop-oë!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.