Net 1 toilet in enigste 24 uur-kliniek in Noordwes-nedersetting

Die enigste werkende toilet in dié kliniek. Foto: ANA.

Daar is slegs een werkende toilet in die enigste 24 uur per dag kliniek in Ikageng, ʼn nedersetting net buite Potchefstroom – die Boiki Tlhapi-kliniek.

Rioolstortings en pypblokkasies by dié kliniek, wat gemiddeld 150 pasiënte per dag behandel, het veroorsaak dat daar net een toilet is wat deur die personeel en pasiënte gebruik kan word.

Layla Mokoea, ʼn gesondheidswerker by die kliniek, het gesê die rioolstortings beïnvloed die kliniek al vir byna twee maande. Volgens haar is dit ʼn gesondheidsgevaar so reg langs die kliniek. “Ons kan nie ʼn gesonde fasiliteit wees reg langs so ʼn gevaar nie. Die reuk is ondraaglik en ons as die werkers moet elke dag hier wees. Dit is ook baie sleg vir die pasiënte wat in die lang rye moet sit met hierdie reuk in die lug,” het Mokoena gesê.

Die kliniek se probleme stop egter nie hier nie, aangesien daar ook ʼn vullisstortingsterrein naby die kliniek is. Ikageng het tans vier klinieke waarvan al vier langs stortingsterreine geleë is. Volgens Mokoena skep die stortingsterrein langs Boiki Tlhapi ʼn rotprobleem vir die kliniek.

“Die stortingsterrein-probleem gaan nou al vir meer as tien jaar aan. Ons kliniek het ʼn kraamafdeling en ons is nou al bang die rotte rig fisiek skade aan ons pasgebore babas aan.”

Willie Maphosa, kommunikasiebestuurder van die plaaslike JB Marks-munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit werk hard daaraan om klaar te speel met die rioolstortings en onwettige stortings. Volgens hom is finansiële beperkings, verouderde infrastruktuur en sabotasie deur die gemeenskap die rede vir die rioolstortings en -oorstromings in Ikageng.

“Ons huidige rioolinfrastruktuur is baie oud; dit is al in die vyftigs en sestigs geïnstalleer en nou gebruik ons verskillende pype. Wanneer ʼn ou pyp bars, het ons gevolglik nie meer die korrekte pype vir die herstel beskikbaar nie. Ons moet ál die infrastruktuur oor die Potchefstroom-omgewing heen met ʼn nuwe stelsel vervang,” het Maphosa gesê.

Vir dit om plaas te vind moet al die mense verskuif word aangesien die pype ondergronds loop. “Ons het nie daardie tipe geld nie en dit sal ʼn probleem skep om mense te skuif. In sommige gevalle tref ons tegnici voorwerpe soos klippe, metaal en plastiek aan – ons vermoed dis sabotasie.”

Volgens Maphosa sal die munisipaliteit op ʼn wetlike wyse afreken met mense wat hul gemors in oop omgewings stort. “Teen volgende jaar sal ons ʼn span hê wat met onwettige stortings afreken. Die munisipaliteit sal ook ʼn hof skep wat spesifiek met sulke kwessies afreken en mense sal vervolg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

gerrie ·

Dit is eenvoudige klomp lui gatte wat in beheer is,baie sleg

Elsa ·

Laat die LP en minister van gesondheid vir 2 weke daar kom sit. Bind hul vas aan stoele dat hul nerens kan gaan

Deon Scheepers ·

Soos dit tans in ons land gaan, kan hulle dankbaar wees dat daar nog ‘n werkende toilet is

Johanna Botha ·

Ag vader en nou wil die minister dit vir ons gee met sy nuwe mediese plan …. berge val op ons !

Frikkie Geld en huis ·

Was die week in ‘n ” army kamp “. Eerste keer sedert 1985, maar dinge lyk nie meer dieselfde nie. Alles is vuil of stukkend of albei.

zoom zoom ·

Frikkie geld en huise. So veval die weermag eenhede dagliks. Die enigste nuwe goedvwat jy by ‘n weermag eenheid sal kry is nuwe voertuie. Lyk vir my as ‘n voertuig ‘n papwiel kry dan koop die weermag eerder ‘n nuwe voertuig .

Stinkgogga ·

Wat is ‘rioolstorting’? Ek dog dit word met netwerk pype vervoer na n rioolaanleg waar dit verwerk word?

GM ·

As elke lid van daardie nedersetting net R5 skenk, sal baie dinge verbeter. Maar almal wil als verniet hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.