Net 10 by Sassa moet glo duisende appèlle verwerk

(Argieffoto: Thobile Mathonsi/ANA)

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het volgens die DA geen personeel wat spesifiek toegewys is om die hantering van appèlaansoeke oor die spesiale R350-toelae te hanteer nie.

Die toelae is ingestel om diegene met geen ander inkomste nie, deur die Covid-19-pandemie te help.

Bridget Masango, die DA se woordvoerder oor maatskaplike sekerheid, sê volgens ʼn antwoord van die minister van maatskaplike sekerheid in die parlement, het Sassa altesaam 10 werkers wat die appèlaansoeke hanteer, terwyl hulle steeds hul normale pligte moet uitvoer.

Miljoene werklose en arm Suid-Afrikaners het vir die toelaag aansoek gedoen. Talle is ingelig dat hul aansoeke afgekeur is en het met die proses begin om die besluit te betwis.

“Dit is geen wonder dat die appèlproses geteister word deur agterstande van duisende e-posse en foonoproepe nie. Sassa en die departement van maatskaplike ontwikkeling het geen voorsorg getref om bykomende tydelike werkers aan boord te bring om die nuwe funksie te behartig en te verseker die appèlproses word doeltreffend en vinnig bestuur nie,” het Masango gesê.

Sy sê Sassa werk die afgelope jaar reeds met ʼn beperkte getal mense en dit is verbysterend dat hy gedink het die proses gaan glad verloop.

“Hoe kan ʼn program wat miljarde rande kos so min hulpbronne hê?”

Masango sê die onthulling laat twyfel ontstaan oor die Sassa-spertyd van 28 Februarie om alle aansoeke vir die R350-toelaag te verwerk. “Sonder enige bykomende hulp om die aansoekproses te versnel en die appèlaansoeke te hanteer, gaan miljoene Suid-Afrikaners waarskynlik nooit toegang tot die broodnodige verligting hê nie.”

Masango sê Sassa se kantore het heeltemal te min hulpbronne en is swak toegerus om die bestaande agterstand te hanteer en dat leierskap nodig is om die probleme te takel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakes

Ondersoek die hele spul. Sal n wonderwerk wees as daar nie masiewe korrupsie aanwesig is nie.

Misky

Gesonde verstand en logika ontbreek hulle en die handjievol belastingbetalers moet pa staan vir die massas

Petrus

Sassa werknemers het dan voordeel getrek en self ook van daardie geld gekry wat eintlik vir mense moes gegaan het wat geld nodig het, maar steeds word niemand van Government tronk toe nie.