Net 1,2 uit elke miljoen SA’ners skenk organe

(Foto: Unsplash)

Net 1,2 uit elke miljoen Suid-Afrikaners is orgaanskenkers en die Gautengse departement van gesondheid het ʼn beroep op mense gedoen om as skenkers te registreer.

Nierbewusmakingsweek word vandeesweek gehou. Dr. Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng, sê net by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal wag 182 pasiënte op ʼn orgaanskenking.

Die meeste pasiënte benodig niere en die lys bestaan uit 168 volwassenes en 14 kinders. Sodra ʼn geskikte skenkernier beskikbaar word, gaan daar met die oorplanting voortgegaan word.

Pasiënte wag gemiddeld tussen een en twee jaar, soms selfs langer, afhangend van die orgaan wat benodig word, op ʼn skenkerorgaan. Sommige pasiënte kan tot vyf jaar wag omdat hulle geen familielid het wat ʼn orgaan kan skenk nie en moet wag vir ʼn kadawerorgaan om beskikbaar te word.

Mokgethi sê daar is ʼn tekort aan skenkerorgane omdat bitter min mense dit skenk.

Die Covid-19-pandemie het die situasie verder vererger omdat talle verkose operasies gestaak is sodat hulpbronne aan die pandemie toegewys kon word.

“Een mens kan tot agt lewens met ʼn enkele orgaanskenking red en tot 50 mense kan danksy ʼn weefselskenking gered word.”

Organe wat die meeste benodig word, is die hart, longe, lewer, niere en pankreas. Weefselskenkings sluit in korneas, vel en lang bene.

“Ons moet as ʼn samelewing oor orgaanskenking praat. Ons kan talle lewens red en mense van dialise afhaal as meer mense organe skenk. Ons kan die geskenk van lewe gee, nie net aan die ontvangers van die orgaan of weefsel nie, maar aan ʼn hele familie,” sê Mokgethi.

“Ons kan broodwinners red, enkelouerhuishoudings verminder.”

Om as orgaanskenker te registreer, kliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Dis nou ‘n manier vir Jacob Zuma om sy hof skuld te betaal deur ‘n skenker te word. Maar as van sy dele in iemand gebruik word, sal daai persoon ook ‘n skelm en dief word?

Filistyn ·

So ek mag nie skenk nie. Hulle soek lang bene ek is kort. Nie eers 5vt lank nie.

Pandora ·

Dis bykans onmoontlik om ‘n orgaan skenker te word.
Ek het op my Medic Alert aangeteken dat ek ‘n orgaan skenker sal wees, maar om op die lys te kom is nie so maklik nie.

Laas toe ek probeer het, moes ek as skenker R1000 betaal net vir die toetse.

Ek het onlangs bewus geword van ‘n Duitse organisasie wat wel die toetse gratis doen en by hulle webwerf aangesluit.

Maak die proses makliker, dan kan dit dalk meer toeganklik wees vir almal.

Jax ·

Die wat wil skenk, moet dit maar doen maar ek sal nooit vir n orgaan oorplanting gaan nie. Jy rek dalk jou lewe met n paar jaar maar vir wat? Pelle van ons se kind het n oorplanting gehad en as ek moet sien hoe hy leef, dan sal ek beslis dit nie toewens vir my ergste vyand nie. Ek kan nie verstaan wat die behebtheid is met leef ten koste van als nie. Wat is so erg aan sterf agv siekte. Al wat die uitstel van die dood doen, is dit maak die dokters, hospitale en medisyne-vervaardigers net nog meer ryk as wat hulle reeds is. Om nie eens te praat van mediese fondse nie. Dis n belaglike kringloop wat Jan-Alleman armer maak as wat ons is. Ons vriende het meer as twee miljoen Rand betaal vir daai oorplanting – dis meer as wat my huis kos! Mediese fonds het darem daarvan gedek maar dit is ook weer waarom ons premies so belaglik hoog is. Dis n bose kringloop en dit net omdat ons ten koste van alles tog net nie wil sterf nie. Ons leef inelkgeval reeds al te lank. Die aarde kan nie meer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.