Net 3% van klagte teen polisie in Gauteng opgelos

(Argieffoto: pixabay)

Net vyf uit 147 sake – oftewel sowat 3% – van sake van wreedheid wat teen die polisie in Gauteng aanhangig gemaak is, is oor die afgelope vyf jaar opgelos.

Dit sluit in: 117 aanrandingsklagte, 16 sterftes in polisieaanhouding, 10 sterftes weens polisieoptrede, drie klagte van verkragting en een klag van verkragting in polisieaanhouding. Die klagte is van die boekjaar 2016-’17 tot 2020-’21 aangemeld.

Michael Shackleton, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng, sê die provinsie se LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, het dié antwoorde ná ʼn vraag van die DA in die provinsiale wetgewer verskaf.

“Al hierdie sake is by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) aangemeld en daaruit is net vyf opgelos.

“Dit wys duidelik dat sommige polisielede in die provinsie versuim om by die polisie se gedragskode te hou, asook om die regte van ons mense te respekteer terwyl hulle hul pligte uitvoer,” het Shackleton gesê.

Die DA het ʼn beroep op Mazibuko en die minister van polisie, Bheki Cele, asook die hoof van Opod, Jennifer Ntlatseng, gedoen om vas te stel wat die vertragings veroorsaak.

Bewerings van polisiewreedheid of magsmisbruik was die afgelope paar dae opnuut in die soeklig ná ʼn voorval waartydens ʼn pa van Centurion in die middernagtelike ure in hegtenis geneem is omdat hy noodgedwonge die aandklokreël moes verbreek.

Die saak teen Naas le Roux, wat formulemelk vir sy dag oue baba gaan koop het en toe aangekeer is omdat polisiebeamptes hom ʼn “les wou leer”, is Maandag van die hofrol geskrap.

Le Roux en sy gesin gaan nou ʼn siviele eis teen die polisie en die betrokke polisiebeamptes aanhangig maak en streng dissiplinêre stappe teen die polisiebeamptes is versoek.

Dr. Chris de Kock, ʼn onafhanklike misdaadontleder, sê verskeie faktore moet in gedagte gehou word in ondersoeke waar polisiebeamptes van oortredings beskuldig word. De Kock sê die oënskynlik stadige pas waarteen sake afgehandel word, is waarskynlik toe te skryf aan ʼn gebrek aan kapasiteit of ondersoekvermoë, maar dit kan ook wees omdat daar in baie sake geen grond vir die klag teen ʼn polisiebeampte was nie.

“In die proses van inhegtenisneming – baie van die sake is aanrandingsklagte – word daar ʼn mate van geweld gebruik om iemand in hegtenis te neem. Streng gesproke was dit egter bloot geweld wat nodig was om iemand in hegtenis te neem,” sê De Kock.

Hy sê mense sit hulle dikwels teë wanneer hulle in hegtenis geneem word. Die polisie moet egter dan optree om hul werk gedoen te kry. Sulke voorvalle kan lei tot klagte van aanranding.

De Kock sê wat moordaanklagte betref, skiet polisiebeamptes wel soms mense dood, maar dit word oorwegend in die uitvoering van hul pligte gedoen.

“Ons misdadigers is dikwels swaar gewapen en mense wat vinnig skiet. As ʼn polisiebeampte nou in ʼn situasie beland waar rowers ʼn geveg aanknoop, is die vraag dan: ‘Wanneer begin ek skiet, eers as húlle begin skiet?’” sê hy.

“Die polisie kan egter nie regter en laksman wees nie en enige samelewing moet daarteen waak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eugene

Mors van tyd om met cele te praat. Hy moes lankal nie meer in diens gewees het nie. Niks goeds gebeur onder sy wag nie

PP

Wat van die hardhandige hantering vd polisie op veral blankes waarvan daar gereeld berig word, soos bogenoemde berig, die jong meisie wat in die middel van die dag deur hulle aangehou is, die jong man van tuine wat ure agter in die vangwa rondgery in die hartebeespoortdam omgewing, wat nie eers hulle area is nie, en so kan ons aangaan.

Dit gaan totaal oor magsvergrype. Ongelukkig het hierdie element in die Polisie die Polisie ‘n slegte naam by die breë publiek gegee.

Chantel

Pateties en soos ons in Afrikaans sê ” klein-mannetjie-sindroom” tel hier net ‘n ander mooi gesegde, maar sal dit nie noem nie.

Willem

Absolute snert, OPOD is bloot onbevoeg. GEEN ondersoek kan 5 jaar duur nie!

Hennie J

Ja en so gaan dit in piesangland. Hoeders beskerm broeders en van ons word verwag om die liegstories te glo. #cele must go fast!!!