Net 30% stem tot dusver

Opposisieleiers is grootliks tevrede met die verloop van sake, hoewel probleme op verskeie plekke aangemeld is. (Foto: Anja van der Merwe)

Teen Maandag om 17:00 het net meer as 8 miljoen mense reeds by die 23 148 stemlokale landwyd in die plaalike regering- verkiesing gestem. Dit is slegs 30,5% van die 26,2 miljoen stemgeregtigdes wat geregistreer het om te stem.

Dr. Nomsa Masuku, kommissaris van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het tydens ’n media-inligtingsessie om 20:00 benadruk kiesers wat nog nie gestem het nie het nog ’n uur om hul kruisies te trek.

Stembriewe moet op die agterkant gestempel wees om geldig te wees. Masuku het ook daarop gewys dat dit verbode is om foto’s van voltooide stembriewe te neem.

Volgens Masuku is ondersoek ingestel na die tekort aan stembriewe wat by sekere stemlokale na bewering aangemeld is. Dié probleme is egter met verloop deur die dag opgelos.

“Daar behoort nie ’n tekort aan stembriewe te wees nie omdat die OVK 100% van die nodige stembriewe gekry het,” het Masuku gesê.

Volgens Masuku is die stemlokale wat Maandagoggend weens betogings gesluit was, ook deur die dag oopgestel. Dit sluit in 20 stempunte in KwaZulu-Natal en 19 in die Wes-Kaap.

Masuku sê die tente wat in die Noord-Kaap en Vrystaat omgewaai het weens sterk wind, is ook herstel.

Die OVK het tydens die inligtingsessie gesê diegene wat vroeër geregistreer het en nie op die kieserslys verskyn nie, sal wettig op die lys gevoeg word om te stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Die mense is moeg vir die politieke rompslomp en die uitslae behoort interessant te wees.

Jannie van Niekerk

Dit is skrikwekkend om te sien dat meer as 18 miljoen stemgeregtigde Suid Afrikaners nie omgee dat ons land al hoe dieper in die afgrond in bestuur word nie. Indien die wegbly stemmers ANC of EFF ondersteueners is, maak dit nie saak nie want hulle stem bevoordeel in elk geval hierdie twee organisasies. Indien jy egter gekant is teen die ANC en EFF en jy het nie gaan stem nie, het jy geen reg om te kla nie want dan het jy indirek vir hulle gestem.

henndrik

Dit is vir my moeilik om te glo die persentasie is so laag. Ek het gister by ‘n paar stasies in Centurion verby gegaan en hulle was baie besig, besiger as vorige kere. Wat ek wel binne opgelet het toe ek gaan stem het is dat die persoon wat die identiteitsnommers moes registreer nie regtig “getal geletterd” was nie en dit het die proses geweldig vertraag en mense in die ry frustreer. Ek kan nie glo hulle het die probleem nie vooraf identifiseer en aangespreek nie.

Moeggeploeg

Te veel partye met leë beloftes. Leiers daar vir eie gewin en gee nie om oor die mense nie

casper

Hoekom ‘n registrasie naweek hou as jy buitendien ongregistreerde mense toelaat om te registreer op stemdag ?????