Net 9% van munisipaliteite kry skoon oudits

geld 2Munisipaliteite en munisipale entiteite in Suid-Afrika het R695 miljoen op konsultante spandeer om hul finansiële state vir die ouditeur-generaal in orde te kry, en steeds het slegs 9% skoon oudits gekry.

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal, het bekend gemaak dat slegs 30 of 9% van die 319 munisipaliteite en munisipale entiteite vanjaar skoon oudits gekry het.

Makwetu het ook bekend gemaak dat R11,6 miljard se onregmatige uitgawes in die huidige boekjaar aangegaan is. Dit is ‘n verhoging van 31% in vergelyking met die 2012/2013-jaar.

‘n Totaal van R8 miljard van die R11,6 miljard is goedere en dienste wat ontvang is sonder dat die regte verkrygingprosesse gevolg is.

Die bedrag word by onregmatige uitgawes ingesluit aangesien die munisipaliteite of entiteite nie die regte verkrygingsprosesse gevolg het nie en dus moontlik te veel vir die goedere of dienste betaal het.

Die oorblywende R3,6 miljard is op goedere en dienste spandeer maar waarvoor daar geen ondersteunende dokumente is om te bewys dat die goedere en dienste wel ontvang is nie.

Kaapstad is die enigste metro wat ‘n skoon oudit gekry het.

Nie een van die munisipaliteite of entiteite in die Vrystaat, Limpopo of Noordwes het ‘n skoon oudit gekry nie.
Een van die hoofredes wat hiervoor aangevoer word is sleutelposte wat vakant is.

Sowat 88% van munisipaliteite het beamptes in sleutelposte aangestel al het hulle nie die nodige vaardighede nie.

Makwetu sê R695 miljoen is op eksterne konsultante spandeer om munisipaliteite en entiteite te help om hul finansiële state in orde te kry.

Dit is ondanks die feit dat meeste munisipaliteite werknemers aanstel vir finansiële bestuur en –verslaggewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ivan ·

Die miljarde en miljoene maak n mens maar deurmekaar, dit moet seker lees 3.6 miljard.
Enewel, dit is nog steeds onaanvaarbaar dat ons net moet betaal en HULLE kom daarmee weg.
En dit is net op onregmatige uitgawes waarvan ons weet, wonder wat is die “regmatige” bedrae wat spandeer is.

Ina Smith ·

Yip , ons kom beslis agter dat van ons Munisipaliteit se werknemers nie voldoende gekwalifiseer is vir die pos wat hulle beklee nie maar gelukkig is daar ‘n oplossing vir dit: ‘ omkoop geld’ verrig wondere en kry dinge gedoen en sekere ongeruimthede word dan oorgesien.Dus is dit nie ‘n onoorkombare probleem nie.Dit is ook verstommend om te lees dat sekere poste vakant is ? Ek is seker daar is gekwalifiseerde persone wat maar te bly sal wees om ‘n werk te kan kry maar dan moet ons ook seker in ag neem dat die AA stelsel nog in werking is en as sekere persone in diens gestel word hulle dalk net sal agterkom wat werklik aangaan agter die skerms en hoe boeke gekook word.

Henk ·

Inderdaad ‘n 30% verhoging in wanbesteding. Wie moes anders die ANC se verkiesings veldtog betaal? Die ANC self? Nie in hierdie dekade nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.