Net derde van boere in Noordwes kry Covid-19-noodverligting

(Foto: Graan SA/Facebook)

Nadat meer as 8 000 boere in Noordwes aansoek gedoen het om bystand ingevolge die Covid-19-hulpfonds, is net-net meer as ʼn derde van dié aansoeke goedgekeur.

“Die vorderingsverslag oor die finansiering van R69 miljoen wat onlangs deur die departement aan die Noordwes- provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee oor landbou voorgelê is, het aangedui dat slegs 34,54% van die aansoeke goedgekeur is,” het Jacqueline Theologo, die DA se woordvoerder oor landbou en landelike ontwikkeling in Noordwes, gesê.

Meer as 6 000 boere wat hulp versoek het, is dus met leë hande weggestuur.

Aansoekers moes ʼn magdom inligting verskaf om in aanmerking vir noodverligting te kom. Dit sluit in:

  • ʼn Aansoekvorm van sewe bladsye
  • Ses maande se bankstate
  • Bewys van omset (dit moet tussen R50 000 en R1 miljoen wees)
  • Die GPS-koördinate van die plaas
  • Die plaasregistrasienommer
  • Die aantal werksgeleenthede wat geskep is
  • ʼn Opsomming van die hulp wat benodig word, en
  • Die verklaring dat alle wette en regulasies nagekom is.

Terwyl aansoekers dié lywige aansoek moes voltooi, was die departement onduidelik oor die kwalifiserende kriteria en het hy ook nie bedrae gespesifiseer wat aan aansoekers betaal sal word nie, of hóé die bedrag bepaal sal word nie.

“Uit ons samesprekings met boere wat aansoek gedoen het, was die onsekerheid oor die bedrag wat betaal sal word en die tydsraamwerk vir sodanige betaling duidelik,” het Theologo gesê.

Volgens haar het ʼn boer van die Dr. Kenneth Kaunda-distrik ondanks ʼn verlenging van die tydsraamwerk steeds nie sy koopbewys ontvang nie. Nog ʼn boer, dié keer uit die Kagisano-Molopo-distrik, het R3 500 ontvang, terwyl ander R50 000 gekry het. Die meeste aansoekers het egter nie ʼn bloue duit gekry nie.

“Dit is verbasend dat die departement sogenaamde foutiewe betalings aan 55 staatsamptenare kon maak, maar nie in staat is om die boere aan wie die finansiering verskuldig is, te betaal nie,” het Theologo gesê.

“Ons sal aan die ouditeur-generaal skryf om die saak te ondersoek om seker te maak dat verliese, waar moontlik, verhaal word, asook om beduidende onreëlmatighede te verwys vir verdere ondersoek.”

Theologo sê die Covid-19-pandemie het talle boere in ʼn ernstige finansiële verknorsing gedompel en hul onvermoë om te produseer hou ʼn direkte bedreiging vir voedselsekerheid in.

Sy sê die LUR van landbou in Noordwes, Sefanyetso Mohono, moet ʼn plan aankondig om boere te help. Die volhoubaarheid van landelike gebiede moet ook verseker word om verdere werksverliese in die landboubedryf te voorkom.

Sy sê Mohono moet aandui hoe boere wat nie nou vir hulp in aanmerking gekom het nie, op ander maniere gehelp gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johanf ·

ń Boer is duidelik nie ń prioriteit nie, daar gaan ń tyd kom dat ons van invoere moet leef……sal die geld leen regering geld hê om dit te betaal….. Ek weet wragtig nie meer nie…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.