Net ‘derde’ van SA’ners gaan verkiesingsuitslag bepaal – peiling

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Ipsos voorspel dat net sowat ʼn derde van stemgeregtiges aan vanjaar se munisipale verkiesing gaan deelneem. Dít kan ʼn beduidende invloed op die uitslag van die verkiesing hê.

Uit die 42,6 miljoen stemgeregtigde Suid-Afrikaners is net 26,2 miljoen – oftewel 61,6% –  geregistreer om te stem.

ʼn Opname wat Ipsos namens eNCA gedoen het, dui daarop dat indien daar ʼn sogenaamde mediumopkoms van kiesers is, net sowat 14,6 miljoen mense Maandag hul kruisies gaan trek. Dit kom neer op 34,3% – oftewel sowat ʼn derde – van die algehele kiesersbevolking. Gautengers is boonop die huiwerigste om te stem.

Ipsos het bevind kieserapatie gaan nes in vorige verkiesings ʼn groot rol in vanjaar se stemmery speel. Deur ʼn spesifieke algoritme te gebruik, gaan ʼn lae kieseropkoms beteken net 30% van stemgeregtigdes trek hul kruisies, vir ʼn mediumopkoms moet 56% van geregistreerde kiesers stem, en vir ʼn hoë stemopkoms moet minstens 83% opdaag om te stem.

As daar na vorige verkiesings gekyk word, is die kans betreklik skraal dat die opkoms “laag” of “hoog” gaan wees en die “mediumopkoms” lyk na die waarskynlikste opsie.

Wie gaan waarskynlik opdaag?

Ipsos se navorsing dui daarop dat indien 56% van geregistreerde kiesers Maandag aanmeld om te stem, die meeste van hulle (53%) vroue en 47% van kiesers mans gaan wees.

Jong mense gaan ʼn betreklik klein gedeelte van kiesers wees – dit word op sowat 6% geplaas – terwyl diegene in ander ouderdomsgroepe veel meer sigbaar in die toue gaan wees.

Ouderdomsprofiel vir mediumopkoms

Dit kan ook aangeneem word dat die opkoms in alle provinsies nie dieselfde gaan wees nie. Ipsos het bevind kiesers in die Wes-Kaap is ingevolge die mediumopkoms-scenario die gretigste om te stem, gevolg deur die landelike Noord-Kaap, Limpopo en Noordwes en dan dig bevolkte KwaZulu-Natal.

Gautengers is volgens die opname die huiwerigste om te stem en net 51% van stemgeregtigde kiesers in die provinsie val in die mediumopkoms-kategorie.

Stryd om metro’s

Ipsos het bevind Tshwane en Johannesburg, waar die felste stryd om beheer van metrorade woed, sal 50% van kiesers ingevolge die mediumopkoms-scenario sien. In Nelson Mandelabaai, ook een van die mees betwiste metro’s, is dié persentasie op 45% of selfs laer.

In ʼn opname wat Ipsos vroeër gedoen het, het kiesers aangedui hulle vertrou nie politiek of politici nie.

“Hulle voel dat hul stem niks beteken nie, omdat niks ná ʼn verkiesing verander nie,” het die navorsing destyds bevind.

Slegs 10% van Suid-Afrikaners dink politici is betroubaar – hoewel dit grootliks ooreenstem met die menings van mense wêreldwyd wat ook nie juis veel dink van politici se betroubaarheid nie.

Ipsos sê in hierdie ruimte van “huiwering en wantroue” is dit die partye wat hul ondersteuners op kiesdag behoorlik kan mobiliseer, wat betreklik goed kan vaar.

Persentasie van ondersteuners wat in mediumopkoms gaan stem

  • ANC: 63%
  • DA: 63%
  • EFF: 41%
  • IVP: 56%
  • VF Plus: 58%
  • ActionSA: 59%

 

  • Die opname is tussen 9 en 14 Oktober telefonies onder 1 346 Suid-Afrikaners ouer as 18 en wat as kiesers geregistreer is, gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Di ·

Ja so sal ons maar sien hoeveel korrupsie weer gaan uitbroei met hierdie stemmery.

Dries ·

My hart wil gaan staan as ek dink daar is nog blankes wat nie hulle kruisie wil gaan trek nie. Dit is myns insiens verraad.

Werner ·

In myns insiens pleeg die mense wat stem verraad.Want ten spyte daarvan dat die sogenaamde oposisie partye weet dat hulle nooit sal wen nie verbind hulle jou tot n proses wat nooit kan werk nie.Prestasie gewys beteken Afriforum meer as enige oposisie party.Hulle doen ten minste iets as n boer onregverdig toegesluit word.

Kirst ·

Werner, jy en mense wat soos jy dink gee hulle regte weg. Plaaslike regering is vir alledaagse bestaan die belangrikste vlak van regering, want hulle is verantwoordelik vir dienste in die gebiede waar ons woon. Ek is gelukkig om die afgelope sewe jaar in ‘n DA beheerde munisipaliteit te woon, maar selfs in ‘n ANC beheerde munisipaliteit is die opposisie baie belangrik. Hulle speel ‘n oorsigrol, en kan korrupsie ontbloot en dienslewering kwessies opvolg. Deur nie vir die opposisie te stem nie maak jy dit net makliker vir die ANC om te doen wat hulle wil en nie te doen waarvoor ons betaal nie.

Werner ·

Net n derde vd mense gaan stem.Dit beteken dat die rewolusienêres die uitslag gaan bepaal.

Zilla ·

Werner, miskien kan ek en jy net daai veskil maak. Vir een of ander rede is ek bang om te gaan stem – nie vir die uitslae nie, maar wat dalk by die voting stations gaan gebeur.

Dries ·

Werner dit gaan my nie keer nie. ONS MOET GAAN STEM. ONS MOET WEERSTAND BIED TEEN HIERDIE VERVAL

Samuel ·

My lewe lank het ek my kruisie getrek, maar hierdie keer kan dit by my verbygaan. My vertroue in ALLE politieke leiers is weg en Maandag sal die ouens wat die oortuigendste gelieg het as die wenner(s) wegstap en summier van al hulle hoogheilige beloftes vergeet, asook van diegene wat ‘n kruisie langs hul naam gemaak het.

Hendrik ·

Dink nou net, as alle VF+ ondersteuners sou gaan stem, sou hulle stemme proporsioneel byna dubbel die waarde hê as wat die huidige skatting is. Dieselfde geld vir die DA en ACDP en COPE. Die ANC kan geklop word, maar apatie van kiesers van die opposissiepartye verhoed dit. Dis ruggraatloos!

Joe Olivier ·

As die peiling waar is,dan maak dit dit soveel belangriker dat elke blanke kieser gaan stem. Ons is in die minderheid en moet sulke kanse aangryp om darem bietjie sê in die land te hê.

Papsak ·

Wel hoop hier gaan iets goeds uit kom vir SA want regtig anc kan nie die land regeer nie kyk hoe lyk Eskom kyk ons munisipaliteite kyk hoe lyk ons spoorwee mens SA is weg my hart bitter seer om n mooi land soos SA so te sien agtwruit gaan lyk soos n kanker wat ons land op vreet my hart bloei vir SA rerig AMEN

Cherokee ·

Hulle sê ⅔ van die kiesers gaan nie stem nie?
Korreksie. Dit is ⅔ + 2 wat nie oorweeg om in daardie toue tussen die massas te wees nie.

Dries ·

Cherokee jy het altyd sulke sinvolle dinge kwyt geraak. Wat gaan nou aan ou maat ?? Jy stem saam dat als verval. Gaan jy regtig nie jou teenstem hierteen terwille van jou kinders uitbring nie. Asb tog man

Rein ·

Die wat nie geregistreer het, en dié wat nie gaan stem het, moet die resultaat aanvaar en het eintlik die reg verbeur om hul mond oor die resultaat uit te spoel!

DieKriek ·

Rein, ek wat nog elke keer vandat ek 18 was gestem het, moet ook maar net die resultaat aanvaar. Hoe het jou stem oor die jare vir jou uitgewerk?

Dries ·

Dit is gewoonlik maar die mense wat die grootste monde het wat nie stem nie. Hulle voel vere in werklikheid

Harley Davidson ·

As iemand vir my kan se wat die DA, VF+vir my gedoen die afgelope tyd vanaf die laaste verkiesing sal ek gaan stem ,Afriforum en Solidariteit baklei vir my en ek ondersteun hulle maar ongelukkig kan ek nie vir hulle stem nie.

DieKriek ·

Wat ek wel kan sê, is dat die DA in Pretoria probeer. Of dit nou verkiesing is of nie. Ek woon al 20 jaar op die Molotopad en die laaste 5 jaar word die lang gras gereeld gesny en die bottels en blikkies en wie weet wat alles nog opgetel en weggery. Dis n nimmereindigende taak. DA het nie beheer oor alles nie, soos SAPS, so dit lyk op die oog af nie so goed nie, maar daar waar hulle kan, probeer hulle minstens.

Werner ·

DieKriek as jy iets begin met ek probeer.Se jy maar net vir my jy is nie goed genoeg nie.

Kirst ·

Kom kuier in die Wes-Kaap en kyk hoe skoon is ons strate en hoe word ons dienste onderhou en gelewer. Ons het in Julie deur die Noord-Kaap, Noord-Wes, Gauteng en Limpopo gery en die verskil is so duidelik soos dag en nag.

Dries ·

Jasper glo my as ek jou sê die VF+ veg baie hard vir ons. Hulle kry nie die media dekking wat die linkse vyandige media gee nie. Gaan stem asb

Frank John ·

Almal wat sê hulle gaan nie stem nie verstaan nie hoe verkiesings uitslae hulle kan help nie.
Toe ek nog tennis en snooker gespeel het in my jong dae het ek geleer om meer teen sterker opponente gespeel om my spel te verbeter al het ek verloor. Ek het teen hulle gespeel totdat ek julle gewen het. My spel het verbeter.
So, hoe sterker die opposisie hoe beter moet die regerende party regeer. As hulle voute maak sal die opposisie hulle opdraande gee.

Misky ·

Puik kommentaar Frank John en hoop paar ouens mooi gelees wat jy sê

Esme ·

Die korrupsie in terme van die Verkiesing het alreeds begin. En ja, stem vir die korrupte ANC en jy mag dalk in Desember wegbreek. Stem teen hulle en die Intelligente Covid 19 tree in en die land word gesluit.
Is dit ‘n Vrye en Regverdige Verkiesing?
In ons Wyk het die Verkiesings Kommissie nagelaat om erkenning aand Action SA te gee.
En glo my, dit gaan gekwalifiseer word as Vry en Regverdig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.