Net een van die vyf verdagtes wat in hegtenis geneem is nadat ʼn bus vol mynwerkers Maandagaand met opset aan die brand gesteek is en ses mense doodgebrand het, het Donderdag in die Mecklenburg-landdroshof in Limpopo verskyn.
Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê Kgaogelo Moime (29), wat Dinsdag in Balotsaneng in hegtenis geneem is, het in die beskuldigdebank verskyn op ses aanklagte van moord, poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging. Die saak is tot 12 April uitgestel.
Moime se vier medebeskuldigdes sal Vrydag in die Praktiseer-landdroshof in Tubatse op dieselfde aanklagte verskyn.
Maroela Media het vroeër berig die voorval het by die Driekop-busstasie buite Burgersfort plaasgevind waar mynwerkers opgelaai is om hul aandskof te begin. Die bus het omstreeks 20:00 by die stasie stilgehou toe twee onbekende verdagtes in die bus geklim het. Die verdagtes het ʼn vlambare vloeistof in die bus uitgegooi, dit aan die brand gesteek en vinnig uitgespring.
Die hele bus het onmiddellik vlam gevat met ongeveer 50 mense daarin. Van die passasiers kon daarin slaag om deur die vensters te ontsnap, maar ses mense het in die bus doodgebrand. Altesaam 28 mense is met brandwonde na ʼn hospitaal gehaas.
Volgens Mojapelo kan nog inhegtenisnemings moontlik volg.
Nou vra ek vir jou WAAROM sal jy 50 onskuldige werkers oppad werktoe wil UITBRAND?? Asb wat is die logika agter hierdie aanvalle? Wat wou hulle bereik om mynwerkers wat op nagskof gaan dood te maak?? Ek kan net nie dink hoe wreed die mense (veral in Suid Afrika) geword het nie .. Geen vredeliewenheid of versoening of samewerking ter sprake nie .. hier word onskuldige mense deur mense van hulle eie etniese groep aan die brand gesteek .. en madame Sisulu se ons het net wetsgehoorsame burgers in SA daar is geen nut vir mense om oorsee te vlug nie ?? WOW!
Ek wil ook weet hoekom so baie onskuldige mense elke dag sterf en niks word gedoen om die moorde te stop nie ???????
Hierdie daad wat gepleeg is was of persoonlik en of oor werkskeppings moontlikhede as daar van ‘n klompie uitgewis kan word. ‘n daad wat sinneloos is en onder jou eie mense wat net wil gaan werk om families te kan voorsien.