‘Net een SA’ner nog in Afghanistan’  

‘n Konvooi van Taliban-vegters in ‘n straat in Kaboel. (Foto: Aamir QURESHI/AFP)

Daar is net een Suid-Afrikaner wat nog in Kaboel in Afghanistan is terwyl tientalle Suid-Afrikaanse burgers bygestaan is om die land te verlaat.

Volgens die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) sal die betrokke Suid-Afrikaner vir die afsienbare toekoms in Kaboel aanbly vir werkdoeleindes.

Daar is moontlik ander Suid-Afrikaners wat ook steeds in die land is, maar die departement weet nie van hulle nie omdat hulle nie by die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat in Islamabad, Pakistan, of by Dirco self geregistreer het nie.

In totaal is 35 Suid-Afrikaners bygestaan om Kaboel met ontruimingsvlugte te verlaat.

Amnestie Internasionaal Suid-Afrika het intussen ʼn beroep op die regering gedoen om vlugtelinge uit Afghanistan in die land toe te laat.

Die Suid-Afrikaanse regering het vroeër gesê hy het kennis geneem van versoeke om Afghaanse vlugtelinge wat tans in Pakistan is hier te huisves, maar die land is nie in ʼn posisie om dié mense te huisves nie.

Die versoek was dat die vlugtelinge in Suid-Afrika bly op pad na hul eindbestemmings, sê Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco. “Die Suid-Afrikaanse regering is ongelukkig nie in ʼn posisie om aan so ʼn versoek te voldoen nie,” sê hy.

Shenilla Mohamed, uitvoerende direkteur van Amnestie Internasionaal SA, meen egter die internasionale gemeenskap, insluitend Suid-Afrika, moet alles in hul vermoë doen om te verseker dat diegene wat die risiko loop om deur die Taliban geteiken te word, spoedig uit Afghanistan verwyder word of dat diegene wat uit Afghanistan wil vlug verwelkom en beskerm word.

“Die internasionale gemeenskap moet hul grense oop hou en die verantwoordelikheid vir die beskerming van en hulp aan vlugtelinge deel. Hulle kan dit doen deur humanitêre hulp en deur veilige en wettige paaie na beskerming oop te maak en uit te brei,” het Mohamed gesê.

“Ons doen ʼn beroep op die Suid -Afrikaanse regering om sy internasionale verpligting na te kom om diegene wat dit nodig het te beskerm.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kokerboom ·

Dis twak Me Mohamed. SA sit reeds met Afrikane uit elke moontlike land ten koste van inwoners. Lande moet deel met hul eie onstabiliteit en NIE ander lande daarmee belas

Cherokee ·

Ek soort van stem met jou saam Kokerboom, maar dan het die muntstuk ‘n anderkant ook, want dan mag jy nie een van die kommentators wees wat hoop dat die buiteland aan Suid Afrikaners vlugtelingstatus verleen.

Hans ·

Waar op aarde gaan ons met nog vlugteling heen gaan in n land waar meer as n derde van ons eie bevolking werkloos is??????

Casper ·

Wat is hulle eindbestemming.Sodra hulle hier is gaan hulle plak en die belastingbetalers sal moet opdok.Stuur hulle Amerika toe.

Andries ·

En wie moet vir hulle sorg? En oor 10 jaar word daar eise gestel…. Hou hulle hier weg asseblief want ons het genoeg burgers van die res van die wêreld (Afrika) in ons land.

Danie ·

Nee dankie.
My swaarverdiende geld help reeds dat miljoene our peoples die beperkte hulpbronne van sa uitput ten koste van wettige boorlinge.
Laat AISA die rekening tov kos, verblyf, medies ens betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.