Net een uit drie verwerpte babas oorleef

’n Vullisterrein waar ’n baba onlangs gelos is. Foto: Verskaf deur SAPD

In Suid-Afrika word duisende babas jaarliks op rommelhope, in vullisblikke en in slote aan die genade oorgelaat, maar niemand kan met sekerheid sê presies hoe omvangryk dié probleem is en of dit toeneem nie.

“Elke organisasie het sy eie statistieke,” sê Tahiyya Hassim, direkteur van New BeginningZ, ʼn nieregeringsorganisasie vir kwesbare kinders wat twee sentrums vir verwerpte babas in Sunnyside, Pretoria, bedryf en pas een in Vishoek in die suide van die Kaapse Skiereiland oopgemaak het.

“Ek weet nie of die probleem groter word nie, want niemand kan ons ʼn geheelbeeld gee van dié landwye probleem nie,” sê Hassim. “Maar in ons ervaring word die meeste babas wat verwerp word, dood aangetref. Net sowat een uit drie leef nog wanneer hulle gekry word.”

Vandat New Beginningz begin het om mense op te voed oor die diens wat hulle bied, word veel minder babas in Sunnyside se omgewing verwerp. “Ál meer vroue kom nou ook binne toe om hul baba af te gee,” vertel Hassim, “pleks dat hulle die baba in die gat in die muur van die sentrum los wat spesiaal vir dié doel skep is.”

Ongelukkig is die diens wat hulle in Sunnyside en nou ook in Vishoek lewer maar ʼn druppel in die emmer. In Sunnyside kan 30 kleingoed tot op die ouderdom van vyf jaar tydelik versorg word en in die Kaap ses tot op die ouderdom van een.

Hassim vertel die vraag na en aanbod van babas vir aanneming is ongeveer gelykop, maar ongelukkig word aannemings vertraag deur die staat se aandrang om babas by aanneemouers van die kind se ras te plaas. “Dit beteken babas beland dikwels by ouers wat minder goed toegerus is om vir hulle te sorg,” meen sy.

“Maatskaplike dienste laat ons kinders ook in die steek, want soms duur dit jare voordat ʼn kind gereed vir aanneming verklaar word.

“Ons het een keer ʼn meisie gehad wat sewe jaar gewag het voor die staat eindelik goedkeuring gegee het dat sy aangeneem kon word. Haar aanneem-ouers was reeds op pad [Suid-Afrika toe] uit die buiteland, toe maatskaplike dienste skielik verlangse familie in ʼn ander provinsie opspoor waarheen die kind toe gestuur sou word mits die familie van ʼn welsynstoelaag verseker kon word.”

’n Baba wat aangeneem word, kry ’n kans op ’ gelukkige, produktiewe lewe. Foto: pixabay.com

Tradisie en bygeloof is nog twee struikelblokke. “Aanneming is in baie gevalle taboe vir swart kinders omdat dit kwansuis die voorvaders sal omkrap,” vertel Hassim. “Ek het begrip vir mense se kultuur, maar my bloed kook wanneer kinders daaronder ly.”

Maatskaplike dienste se verklaarde beleid is om altyd in die beste belang van die kind op te tree, vertel Hassim, maar dié beleid word dikwels verkeerd toegepas. “Is dit in ʼn kind se beste belang om tot op 18 in ʼn kinderhuis te bly omdat die voorvaders dit so verkies pleks dat hy of sy die geleenthede kry wat ʼn liefdevolle aanneemgesin hom of haar bied?”

Gevra of tradisie en geloofsopvattings ook ʼn rol speel in die beskikbaarheid van aborsie aan vroue wat nie kans sien om ʼn kind in die lewe te bring nie, sê Hassim in haar ervaring is dit ál minder die geval.

New BeginningZ verkies om ma’s berading te gee voor hulle die lewe skenk sodat hulle beter ingelig kan wees oor hul opsies. “Ons verwys nie meer jong ma’s na hul plaaslike kliniek vir raad nie,” vertel Hassim, “want hulle is geneig om baie veroordelend te wees en vir die ma te sê hoe sleg sy is dat sy nie haar kind wil hê nie.”

Die sentrums bied nie pleegsorg nie, want Hassim meen dit word as “ʼn maklike uitweg gebruik waar kinders vir ʼn paar jaar gelos word tot hulle ʼn bietjie groter is en makliker is om voor te sorg”.

Tydens berading benader New BeginningZ elke geval as uniek. “Ons wil elke ma op die pad plaas wat vir haar die beste is,” sê Hassim.

New BeginningZ se nommer in Pretoria is 012 384 2189.

New BegginingZ se twee sentrums in Sunnyside, Pretoria, kan saam tot 30 babas en kleuters op ’n keer versorg. Argieffoto

Volgens die departement van gesondheid se demografie- engesondheidsopname van 2003 was 12% van vroue tussen 15 en 19 reeds ʼn ma of swanger met hul eerste kind. Volgens die 2016-opname het dié syfer 13 jaar later met ʼn kwart tot 16% toegeneem, dieselfde as in 1998 se opname.

Die persentasie tienermeisies wat reeds swanger was of is, styg skerp – van 4% op die ouderdom van 15 tot 28% onder 19-jariges, oftewel meer as een uit vier.

Die Noord-Kaap het die hoogste persentasie tienerma’s (20%) en die Wes-Kaap die laagste (8%). Gauteng se syfer is 14% en die Vrystaat 12%.

Wat inkomstegroepe betref, kom die minste tienerswangerskappe onder die welvarendste groep voor met net 7% van die meisies wat reeds die lewe geskenk het of swanger is.

ʼn Kommerwekkende 31% van alle meisies tussen 15 en 19 wie se hoogste opvoedingsvlak “onvoltooide primêre skool” is, is reeds ʼn ma of verwag. Die persentasie van dié wat enkele jare op hoërskool was en ʼn tienerma is of gaan wees, en dié wat hoërskool voltooi het, is albei nagenoeg 16%.

In dieselfde opname is bevind minder as die helfte (47%) van meisies tussen 15 en 19 wat in ʼn verhouding is, gebruik voorbehoedmiddels. Onder dié wat enkellopend is, styg dié syfer tot meer as twee derdes (68%).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae