‘Net genade dat ons leef,’ sê swaers ná gru-ongeluk

Luis Antonio (links) en Riaan Viviers (Foto: Verskaf)

Twee swaers van Brakpan aan Gauteng se Oos-Rand, albei sakemanne van die omgewing, sê dit is net “genade van Bo” wat verseker het dat ʼn gru-ongeluk op die N17 die afgelope naweek nié hul lewens geëis het nie.

Riaan Viviers het Dinsdag aan Maroela Media vertel hy en sy swaer, Luis Antonio, was Saterdag onderweg na Koppiesdam vir ʼn visvanguitstappie toe die ongeluk gebeur het.

Viviers sê hy en Antonio was in gesprek toe die bakkie waarin hulle gereis het skielik ʼn reuseklip op die hoofweg getref het.

“Daar was klippe en pale wat oor die hoofweg versprei gelê het, maar ons het nie die versperrings van ver af gesien nie,” vertel hy. “Luis [wat die voertuig bestuur het] het probeer uitswaai, maar die bakkie het ʼn reuseklip aan die linkerkantse voorwiel getref.”

Volgens Viviers het die impak van die botsing die wiel van die bakkie losgeruk. Hy sê die voertuig het onmiddellik balans verloor en na links omgeslaan. Viviers sê Antonio het ten tyde van die voorval nie vinniger as 110 km/h gery nie.

Die wrak nadat die voertuig op sy dak tot stilstand gekom het (Foto: Facebook)

“Dit het gevoel asof alles in ʼn oomblik gebeur het. Daar was nie tyd om vir die klip uit te swaai nie, veral omdat daar baie ander versperrings ook in die pad was. Toe die bakkie eers die klip tref, het alles baie vinnig gebeur. Die bakkie het vir ʼn paar oomblikke op sy linkerkant geskuur en toe begin rol. Die voertuig het maklik seker vyf of ses keer gerol voordat dit op die dak tot stilstand gekom het. Ek was deurentyd by my volle bewussyn en het elke stamp en geluid gehoor – dit was ysingwekkend.”

Hy sê die impak van die botsing het hom na die agtersitplek van die voertuig geslinger waar hy vir sowat 20 minute vasgekeer was. Volgens hom kon Antonio onmiddellik ná die ongeluk daarin slaag om uit die voertuig te ontsnap.

“Luis het vir etlike minute sonder sukses probeer om my uit die bakkie te bevry. Ons was bekommerd dat dit moontlik ʼn kapingspoging was. Daar was ʼn voertuig sowat 100 m verder van ons af geparkeer. Luis het my pistool by hom gedra omdat ons nie geweet het of ons moontlik gekonfronteer sou word nie. Die persone het oomblikke later in hul voertuig geklim en weggery – dít terwyl ek in die wrak vasgekeer was,” sê hy.

Viviers sê hy was angsbevange dat die voertuig moontlik aan die brand sal slaan as gevolg van diesel wat oor die toneel uitgemors het. Volgens hom het drie jong mans wat glo op pad werk toe was by die toneel stilgehou om hulle te help.

“Die jong mans het die regter agterdeur van die bakkie oop forseer om my uit die wrak te bevry. Ek wil vandag vir hulle dankie sê dat hulle stilgehou het om ons te help. As dit nie vir hulle en die genade van Bo van God af was nie, was ons dalk nie vandag hier nie,” het hy gesê.

Die wrak nadat die voertuig op sy dak tot stilstand gekom het (Foto: Facebook)

“As ons kyk deur die foto’s en hoe die bakkie soos ʼn stuk papier verfrommel is, weet ons dat ons nét lewendig uit daardie voertuig geklim het omdat God ons beskerm het. Daar is geen ander verduideliking daarvoor nie; dit was nie ons tyd nie.”

Viviers sê hoewel die klip nie op die oomblik van die ongeluk van die brug afgegooi is nie, is dit duidelik dat die klip wel in ʼn stadium van die brug af op die pad gegooi is omdat daar glo merke op die teerpad was.

Die swaers is Saterdag na die hospitaal geneem, maar is albei intussen ontslaan. Viviers het sy sleutelbeen gebreek en Antonio se skouer en elmboog is gebreek. Antonio is Dinsdagmiddag weer gehospitaliseer.

Volgens Viviers gee hy en Antonio intussen hul samewerking aan die polisie wat die voorval ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Snuffels ·

Sjoe kyk ons Brakpanners is taai…is bly julle manne is ok!

HELP 'n BIETJIE ·

ONS i baie bly julle twee is ok. Dit is net vir my ‘ysingwekkend’ dat dit met enigeen enige tyd kan gebeur en dat daar eerder bordjies opgesit word “HAZARDOUS OBJECTS” as wat daar iets aan die saak gedoen word. LIG DIE RELINGS aan die kante van AL die brue. Julle vra tolgeld vir so baie paaie .. GRADEER die brue op met die geld. Sit railings aan of span die relings langs die kante toe dat daar NIE klippe afgegooi kan word nie .. Plaas metropolisievoertuie op plekke waar daar gereeld insidente is .. genade tog ek kan nie glo dat daar net bordjies opgesit word en die arme publiek aan hulleself oorgelaat word nie?? Daar is DUISENDE METROPOLISIE .. patrolleer die paaie en wees sigbaar in areas waar mense klippe op paaie gooi ..

Opmerklik ·

Opmerklik is daardie ‘pypskerm’ tussen die bak en kajuit wat gekeer het dat die bakkie se dak plat sou gewees het. Sorg dat jou bakkie daardie skerm het.
Sorgwekkend hoe hierdie terrorisme toeneem.

Johan ·

Daai “pypskerm” word n rolstaaf of in Engels roll bar genoem. Ja, dit maak nngroot verskil as ‘n bakkie rol.

G ·

Soveel skade as gevolg van ‘mense’ wat weereens wou vat wat hulle nie toekom nie. En nou moet die slagoffers geld uitdok vir medies, nuwe voertuig ens., en die kriminele loop vry rond. Gelukkig het albei manne oorleef!

franje van spanje ·

Ek weet darem nie. Klink vir my alte veel asof die “versperrings in die pad” dalk versin in. Asook die “persone 100m weg”. Nou spring almal op die “kapings-wa”.

Mrs.B ·

Dit is nie versin nie, daardie gedeelte van die N17 is ‘n hijacking area, dit het al soveel kere tevore gebeur.

Eastrander ·

@ Franje van Spanje.. ek dink verseker moet jy eers feite kry voor jy sulke aanmerkings maak. dis nie die eerste keer dat groot klippe op daardie pad gepak word nie . Hoeveel keer is daar al klippe van bo af ook op voertuie gegooi.. Hierdie mense kon met hul lewe geboet het en jy het watter reg om hul intergriteit te beledig???

wilna joubert ·

Ag weet jy wat. Heel duodelik kyk jy nie die nuus en lees koerant nie. Daar is al twee onskuldige kinders dood met die afgelope dae se nonsens. Jy was nie daar nie so hou jou smoel. Die twee swaers wat in die ongeluk was kan bly wees dat die Here Sy Beskermende hande oor hulle gehad. Dit kon erger gewees het.

wilna joubert ·

Ag weet jy wat. Heel duidelik kyk jy nie die nuus en lees koerant nie. Daar is al twee onskuldige kinders dood met die afgelope dae se nonsens. Jy was nie daar nie so moet asb nie sulke ongevraagde kommentaar lewer as jy nie self daar was nie. Die twee swaers wat in die ongeluk was kan bly wees dat die Here Sy Beskermende hande oor hulle gehad. Dit kon erger gewees het. Bly julle is ok.

Mara ·

Moet mense altyd negatiewe kommentaasr lewer? Assenblief tog wees net bietjie nmeer positief oor berigte

Zatopek ·

Gelukkig het julle ‘n Ford gery. 5 Sterre vir veiligheid in elk van die variasie Ranger bakkies. Toyota manne kan ongelukkig nie saam praat nie.

Bossie ·

Mara, ek stem saam. Mens kan mos net saam praat indien jy self daar was. Hierdie “waarseêrs” wat altyd alles weet irriteer die wit waks uit mens uit. So dankbaar hierdie manne het dit oorleef. Dit lyk BESLIS na ‘n wonderwerk!

Chris Ws ·

Prys ons Vader vir SY beskerming.Dis baie goed dat satan nie sy sin gekry het om die 2 mans weg te vat nie!Die satansdrekke wat daai rots in die pad gegooi het is gemerk – ons Vader slaap nie.Julle straf sal julle kry.Sterkte manne!

Desmond ·

Ek YS om te weet wat met ‘n motorvoertuig sou gebeur het in hierdie situasie. Die bakkie het dit oorleef…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.