‘Net koffie’ se Henriëtte en man in hof oor bedrog, diefstal

Andries en Henriëtte Marx (Foto: Henriëtte Marx/Facebook)

Andries Petrus Cornelius Marx (44), sy vrou Henriëtte Marx (40) en Paul Louis McIntyre (42) het in die Pretoriase gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn op aanklag van bedrog en diefstal.

Henriëtte was die aanbieder van die kykNET-leefstylprogram Net koffie. Die derde en laaste seisoen van dié program het in 2022 tot ‘n einde gekom.

Andries staan tereg op 32 aanklagte van diefstal, 120 aanklagte van bedrog en drie aanklagte van geldwassery, sê Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag. Henriëtte staan tereg op twee aanklagte van die verkryging van die opbrengs uit onwettige aktiwiteit.

Die egpaar word daarvan verdink dat hulle oor ʼn tydperk van twee jaar sowat R32 miljoen van Yellow Star Manufacturing, ʼn maatskappy in Vereeniging, gesteel het.

Die maatskappye wat Andries verteenwoordig, DHM Traders, Tabgha Holdings en Arabica, staan onderskeidelik tereg op 32 aanklagte van diefstal, 28 aanklagte van bedrog en 15 aanklagte van bedrog.

Henriëtte se maatskappy Coffee Excellence word deur twee aanklagte van die verkryging van die opbrengs uit onwettige aktiwiteit in die gesig gestaar.

“Andries was van 2018 aangestel as direkteur by Yellow Star Manufacturing (YSM), ʼn maatskappy wat groot hoeveelhede staalballe giet en vervaardig. Dit word gewoonlik gebruik in swaar nywerhede soos myne en ertsmeule. In April 2019 is McIntyre deur Andries aangestel as ʼn kliënteskakelbeampte en hy het direk aan Andries gerapporteer,” sê Mahanjana.

Die twee mans het na bewering YSM bedrieg deur bankbesonderhede op fakture te wysig na dié van maatskappye wat aan Andries en sy vrou behoort. “Die twee het glo ook die pryse van dienste aan die maatskappy verhoog sodat hulle die geld kon steel. Sommige van die fakture waarvan die pryse verhoog is, was fakture vir belasting, heffings en water-en-elektrisiteitsdienste van Emfuleni-munisipaliteit.”

Die aktiwiteite is onthul deur die meerderheid-aandeelhouer van YSM, Hanno van Dyk, ná hy die boeke nagegaan en opgemerk het dat sommige van YSM se kliëntebetalings nie wys nie.

“Ná verdere ondersoek het Van Dyk besef dat die geld wat vermis word, in bankrekeninge inbetaal is van entiteite wat aan Andries en sy vrou behoort. Ander fondse is in McIntyre se persoonlik bankrekening inbetaal.”

Van Dyk het die saak in Junie 2022 by die polisie aangemeld en ná ʼn ondersoek deur die Valke is die drie persone in hegtenis geneem toe hulle hulself aan die polisie oorgegee het. Hulle het elk in die hof verskyn op skedule 5-oortredings.

Hul prokureurs het in die hof verklarings van hul kliënte voorgehou ter ondersteuning van hul aansoek om borgtog.

“Staataanklaer Don Sithole het nie die borgtogaansoeke teengestaan nie. Die drie is vrygelaat op borgtog van R20 000 elk op voorwaarde dat hulle hul paspoorte by die ondersoekbeampte inhandig en dat hulle die ondersoekbeampte dadelik in kennis sou stel van enige reisplanne buite Gauteng. Hulle mag ook nie direk of indirek met getuies ingemeng het nie.”

Die saak is tot 31 Januarie 2024 uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nicky ·

Ag dis nie so erg nie, hulle het maar net die kaders se voorbeeld gevolg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.