Net om Shaun Abrahams span ál nouer

Genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, en Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid. Foto: Verskaf

Die net span ál nouer rondom adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV).

Die burgerregte-organisasie AfriForum en genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, wat vermoedelik onregmatig deur adv. Nomgcobo Jiba geskors is, het Vrydag strafregtelike aanklagte van meineed en regsverydeling teen Abrahams by die Silverton-polisiestasie ingedien.

Dit volg nadat die hooggeregshof in Pretoria – in die saak oor Abrahams se onttrekking van die aanklagte teen sy adjunk, Jiba – bevind het dat die weergawes van Abrahams en Marshall Mokgathle, streekshoof van die misdaadeenheid teen gespesialiseerde kommersiële misdade, in hul onderskeie beëdigde verklarings aan integriteit ontbreek.

Die hof het ook bevind dat dit Abrahams was wat die aanklagte teen Jiba op aanbeveling van Mokgathle onttrek het. Dit was ook die hof se mening dat Abrahams en Mokgathle se weergawes ernstige vrae oor geloofwaardigheid laat ontstaan, asook dat die verduideliking vir die onttrekking wat deur Abrahams verskaf en deur Mokgathle ondersteun is “ekstreem bisar” is.

“Sowel Abrahams as Mokgathle het daarom ’n oortreding luidens artikel 9 van die Wet op Vrederegters en Kommissarisse van Ede (wet no. 16 van 1936) gepleeg, wat bepaal dat enige persoon wat in ’n beëdigde verklaring – afgelê voor ’n persoon wat bevoeg is om ’n bevestigingseed af te neem – ’n onwaar verklaring maak, wetend dat dit onwaar is, skuldig sal wees aan ’n oortreding en met skuldigbevinding tot die wetlike straf vir meineed gevonnis kan word,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Strafregtelike aanklagte van meineed en regsverydeling is Vrydag (23 Februarie 2018) teen adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, by die Silverton-polisiestasie ingedien. Foto: Verskaf

Taute meen Abrahams is duidelik nie geskik of bevoeg om in sy pos te dien nie. “AfriForum doen ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa om Abrahams sonder verwyl af te dank en ’n nuwe NDOV aan te stel wat sonder vrees, guns of vooroordeel sal optree.”

Abrahams is ook in AfriForum se privaat vervolgingseenheid se visier omdat hy sloer om individue soos oudpres. Jacob Zuma en sy seun, Duduzane, strafregtelik te vervolg op bewerings van korrupsie wat hulle in die gesig staar.

Abrahams het in ’n verrassende wending egter onlangs aangekondig dat hy wel strafregtelike vervolging van Duduzane heroorweeg nadat daar aanvanklik besluit is vervolging is ongegrond. Dié saak hou verband met ’n motorongeluk in 2014 op die M1-snelweg in Gauteng wat Duduzane na bewering veroorsaak het. ’n Jong vrouepassasier in ’n ander voertuig, Mekelina Dube, is op slag dood.

Abrahams het die saak teen Duduzane hersien nadat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, einde verlede jaar ’n skrywe namens die Dube-familie aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig het om ’n nolle prosequi-sertifikaat aan te vra wat dit vir AfriForum moontlik sou maak om Duduzane privaat te vervolg.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen Abrahams se besluit is ’n oorwinning.

Abrahams sal na verwagting vandag aandui of oudpres. Zuma op grond van korrupsieklagte vervolg gaan word of nie.

Genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. Foto: Verskaf

Kriel meen dit is duidelik dat Abrahams “al hoe meer in ’n hoek gedruk word”.

Benewens druk deur AfriForum dat Abrahams van sy pos onthef moet word, hang daar ook ’n verdere swaard oor sy kop nadat die hooggeregshof in Pretoria vroeër bevind het dat Abrahams se aanstelling ongeldig was. Die hooggeregshof het in Desember beslis dat Abrahams sy pos moet verlaat.

Die NVG het teen dié hofbeslissing geappelleer en dié appèl sal eerskomende Woensdag in die konstitusionele hof aangehoor word.

Oudpres. Zuma het op sy beurt ook onlangs stukke by die konstitusionele hof ingedien waarin hy beswaar aangeteken het teen die hooggeregshofbeslissing dat Ramaphosa ’n nuwe NDOV in Abrahams se plek moet aanstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johannes van Rooyen ·

As hy wel onbevoeg is en dit bewys is dan is hy mos onbevoeg om advokaat ook te wees dan moet hy mos van die rol gekrap word of hoe ?

Andre ·

Dit is hoogtyd dat iemand iets doen om al die gekhede hok te slaan!
Voorspoed Johan.

Jacques Venter ·

Dis nou al 10 jaar dat die DA sukkel om Zuma in die hof te kry. Maar dis appèl op appèl

Jacques Venter ·

Sou dit nie wonderlik wees as hulle Genl. Johan Booysen sou aanstel as hoof van misdaad intelegensie?

Mens kan mos maar droom

Eish ·

Darem n groot stuk genade dat die waarheid altyd op die einde seëvier.

Andre ·

Dis hoogtyd dat iemand iets aan die gekheid doen.
Voorspoed Johan!

Eddie ·

Ek dink dis tyd dat Rhamaphosa almal afdank en dat daar weer aansoek gedoen word vir die poste , maar aanstellings eers behoorlik gekeur sal word ! Dan kan ons weer oor begin !

Freud ·

As die hof in December beslis het dat hy uit sy pos verwyder moet word, hoe kom is hy nog daar? En hoe kan hy besluit oor die herinstelling van klagtes teen Zuma as hy nie eers daar moet wees nie. As ek reg onthou het die hof beslis dat Ramaphosa toe as adjunk president binne sestig dae iemand anders moes aanstel. Die spertyd is verby en Ramaphosa het nog niks gedoen nie. Die land is in die moeilikheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.