Net stywer getrek om oortreders in tronke  

Argieffoto Foto: veooz.com

Die departement van korrektiewe dienste sê hy kon tydens die tydperk van algehele afsondering daarin slaag om die smokkel van items soos selfone na en van tronke hok te slaan. Dit is grotendeels omdat geen besoekers tydens die tydperk van algehele afsondering in tronke toegelaat word nie.

“Die besit en gebruik van selfone en ander toestelle deur gevangenes is ʼn groot bekommernis en daar gaan vinnig op dié toestelle beslag gelê word sodat dit uit [korrektiewe] sentrums verwyder kan word,” sê Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement in ʼn verklaring. “Die beperkte beweging in die tronk weens afsonderingsregulasies beteken dat tronkbewaarders geteikende soektogte kan onderneem.”

Nxumalo het gesê die verwydering van dié items uit tronkselle regoor die land het opstande in sommige van die korrektiewe sentrums tot gevolg gehad. “Sommige van dié opstande het plaasgevind onder die voorwendsel dat gevangenes ontevrede is oor ʼn gebrek aan voorsorgmaatreëls teen Covid-19,” sê die departement.

Die departement sê hy ondersoek ʼn voorval waartydens gevangenes matrasse in gevangenisse in Krugersdorp, Worcester en die Leeuwkop-gevangenis aan die brand gesteek het.

Maroela Media het ook Dinsdag berig oor oproerigheid by die Baviaanspoort- medium-korrektiewe sentrum (B-eenheid, sel 7), in Gauteng. Een gevangene het op sy rug gaan lê en geweier om in sy sel in te beweeg.

Volgens Nxulamo het dié aksies ook gevalle aan die lig gebring waar tronkbewaarders direk betrokke is by die smokkel van goedere na en van tronke. “Die departement sal nie huiwer om aksie te neem teen skelms in die departement wat met oortreders saamwerk om die sekuriteit van ons sentrums te ondermyn deur smokkelary moontlik te maak nie.” Hy sê talle ondersoeke is op dreef teen beamptes wat by dié ongerymdhede geïmpliseer word. “Korrektiewe dienste het ʼn plig om enige korrupte bedrywe heelhartig te beveg,” het hy bygevoeg.

Arthur Fraser, nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, sê interne dissiplinêre aksies sal ingestel word teen dié wat skuldig bevind word aan enige oortreding van departementele reëls en regulasies.

Intussen is nog een bewaarder in Oos-Londen positief getoets vir Covid-19. Tot dusver het 58 bewaarders en 57 gevangenes landwyd positief getoets vir die virus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
PieterP

Sekere bewaarders sal altyd smokkel. Dagga, fone, mandrax en selfs vuurwapens en Okapi messe is al gedoen. NOU tydens lockdown kan DCS kastig ordentlik visenteer? Hoe belaglik is van die kommentare nie…

Scalla

inside job.