Net twee dae se drinkwater vir George

Die George-munisipaliteit het in hierdie stadium ‘n drinkwatervoorraad van net twee dae. (Foto: George-munisipaliteit/Facebook)

Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap het water vir net twee dae nadat stormreën groot skade aan infrastruktuur aangerig het.

Die plaaslike owerheid sê hy het ʼn voorraad van 61 megaliter drinkwater in sy reservoirs, terwyl huidige daaglikse gebruik tans op 36 megaliter per dag staan.

“Ons versoek dat inwoners asseblief gehoor gee aan ons oproep om water spaarsaam te gebruik. Moenie vandag jou motor was nie, stel die was van wasgoed uit, moenie die tuin natlei nie. Gebruik water net vir absoluut noodsaaklike take,” lui ʼn verklaring van die munisipaliteit.

Volgens die owerheid het drie groot pype die afgelope 24 uur gebars.

Die Tuinroetedam se rouwaterpypleiding wat as toevoer vir een van die damme dien, het vroeg vanoggend gebars. Die pypleiding is verantwoordelik vir die hooftoevoer van water na damme wat weer water aan die watersuiweringswerke voorsien.

“Die bars het ʼn reuseuitwerking op die watertoevoer na die hele stad.”

Die Blanco-drinkwaterpypleiding het 24 uur gelede gebars en is sedertdien al twee keer herstel. Dit het Dinsdag omstreeks 02:00 egter weer gebars en spanne moes opnuut met herstelwerk begin.

Die Malgas-rouwaterpypleiding wat water uit die Malgasrivier na ʼn dam pomp, is intussen ten volle herstel. Ingenieurs het vanoggend begin om die pypleiding stelselmatig oop te stel om te verseker die herstelwerk hou en dat die pypleiding gebruik kan word om teen volle kapasiteit gebruik te word.

Al die herstelwerk aan die pypleiding gaan minstens 36 uur duur – en dan net as geen bykomende probleme opduik nie.

“Ons spanne werk die afgelope 24 uur al onophoudelik en bykomende hulpbronne is ingeroep. Herstelwerk aan die Tuinroete-pypleiding benodig boonop spesialiskennis.”

Die munisipaliteit sê hy het watertenkwaens op ʼn gereedheidsgrondslag indien dit benodig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.