Netbal SA-president herstel van Covid-19

Cecilia Molokwane. Foto: Netbal SA/Facebook

Ná twee weke van selfisolasie is die president van Netbal Suid-Afrika, Cecilia Molokwane, een van die Suid-Afrikaners wat volkome van Covid-19 herstel het.

Maroela Media het verlede maand berig dat Molokwane positief vir die virus getoets het nadat sy die Verenigde Koninkryk vir sakedoeleindes besoek het.

Volgens Netbal SA het hul president vergaderings as bestuurslid van die Internasionale Netbalfederasie (INF) bygewoon. Die vergaderings was ter voorbereiding vir die 2023-Netbalwêreldbeker wat in Kaapstad aangebied sal word.

Sy het die raad van haar dokter gevolg en was vir twee weke in selfisolasie.

“Dit is só ’n uitputtende proses, maar selfisolasie is beslis die moeite werd; nie net vir jouself nie, maar ook vir almal rondom jou. Ek het ’n dogtertjie wat drie jaar oud is en om haar nie ’n druk te mag gee nie, was ’n nagmerrie,” het sy gesê.

Sy het ook die erns van die virus beklemtoon.

“Die feit dat sommige mense dit nie ernstig opneem nie, bekommer my. Ek en my gesin sal die voorsorgmaatreëls gedurende die afsonderingstydperk gehoorsaam.

“Covid-19 ken geen kleur, ras, geslag, geloof of iemand se finansiële welstand nie. Om as nasie veilig te wees moet ons asseblief by die huis bly.”

Molokwane is verlede week weer vir Covid-19 getoets en het Saterdag verneem die uitslag is negatief. Volgens Molokwane het niemand met wie sy in aanraking was ná haar terugkeer na Suid-Afrika positief vir Covid-19 getoets nie.

Netbal SA se kantore sal tot 17 April gesluit wees.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan

Ongelooflik en verstommend hoe al die bekendes soos angus buchan en prins charles niks oorkom na hulledie dodelike virus oodoen wat die publiek omtrent op hol het nie…dan is dit mos nou nie n dodelike virus nie of hoe…

Susanna

Dis wonderlik! Prys die Here!

Lizelle

Jan jy is seker vreeslik verveeld. Jy tik dieselfde boodskappe oor en oor